Die verhale van
NP Barry

Soeke

Geskryf in April 2010 / Ongeveer 25 minute leestyd (5 386 woorde)

“Ek sal jou ruïneer, ek sal jou verneder, ek sal die wêreld wys dat die wonderlike Dr. Reza Ciske niks anders as ’n siek sielkundige is wat haar pasiënt met haar siek persoonlikheid tot selfmoord gedryf het nie”.

Harde woorde wat bedoel is om te raak, en seer te maak, waar niks nog ooit geraak of seergemaak het nie, maar dit raak nie, dit maak nie seer nie, dit gaan net verby. Niks kan my meer raak en seermaak, as die verwyt in my hart nie.

Ek kyk nie eers op nie, ek ken die stem, ek ken die dreigemente, ek ken die emosie van hierdie man, en dit raak my nie, want ek is onaantasbaar. Dit is altyd net ek, en myself, ek deel ‘my’, met niemand nie.

Ek sien die groot hande, ek voel hulle my skouers vasgryp, en ek voel hom my ruk dat my bril flenters op die marmer trap tussen ons val.

“Hoor jy my, antwoord my”, skreeu hy hier ’n sentimeter van my gesig af.

Ek hoor elke woord wat hy sê, maar ek antwoord hom nie, ek weet wat hy wil hê ek moet erken, ‘Dat die emosielose dokter Reza Ciske wel ’n gevoel het, dat sy stukkend is, platgeslaan is oor wat gebeur het,’ en ek weet indien hy daarvoor wag, hy ’n leeftyd sal wag. Binne my skryn dit, “Jahn, waarom, waarom?” maar daar is geen antwoord vir my, of vir hom nie.

Ek voel hoe hulle hom van my wegruk. Creighton Ford en Charles May het moeite om Jarrod McMaster vas te hou. Hy is ’n sterk man hierdie senator Jarrod McMaster, jy sal nooit kan dink dat hy en Jahn broer en suster was nie, sy so sag en weerloos, en hy, ’n reus, selfs hier in sy vroeë sestigs.

Ek buk om my bril op te tel, sien die skerwe die son se flits reflekteer, wanneer dit op die buiging van die gebreekte lens val, en dan sonder om daaraan te raak, staan ek op, ‘Ek sal hom nie weer gebruik nie, wat ek deur hom gesien het, is verby,’ en daardie een gesig wat ek wel deur hom gesien het, breek my hart.

Ek loop om Jarrod McMaster, sonder om na hom te kyk, en wanneer ek deur die hof se hoë marmer ingang stap, haal sy dreigende woorde my in, “Ek sal jou doodmaak Reza Ciske”, en hierdie woorde gaan nie verby nie, dit vind weerklank in my gemoed, en ek dink ‘Ja Jarrod McMaster, dit is waarop dit sal neerkom, dit sal ’n welkome uiteinde wees, al wees wat my uit hierdie bodemlose put van verwyt en hartseer sal kan red.’

Die hofsaal is volgepak wanneer ek en Manny Rees, my advokaat, die hofsaal instap, volgepak soos elke dag die afgelope week. Hy vat my liggies aan die arm wanneer ons gaan sit, en in sy oë sien ek weer die trek. ’n Trek gevul met ’n baie klein bietjie hartseer, en ’n groot hoeveelheid vermakerigheid, en ek weet waar dit vandaan kom, want ek en hierdie Manny Rees ken mekaar ’n baie lang tyd, behalwe vir ’n paar dae, my hele miserabele leeftyd. Hy was die een wat gereël het dat ek Reza Ciske word, die aangenome kind van professore Carl en Danielle Ciske, leiers op die gebied van menslike emosies, skrywers van tien talle boeke oor hoe om emosies te onderdruk en te oorwin.

Ek hoor weer sy woorde die dag wat dit rugbaar geword het dat Jarrod die kliniek en in besonder my, gaan dagvaar vir sy suster se selfmoord. “Hoe kan enige iemand jou ooit verdink van so iets, iets so menslik en eie aan die mens se natuur soos liefde, en dit nogal liefde vir iemand van jou eie geslag?”

Hy het spottende gelag, “Jy Reza Ciske wat nog nooit in haar hele lewe ’n enkele traan gestort het nie, nie vir jouself nie, en ook nie vir ’n ander nie, nog nooit een enkele menslike emosie gevoel het nie. Hoe kan enige iemand ooit dink dat jy met jou agtergrond, jou koudbloedige samestelling, sal afdaal na ’n gewone mens se emosies, emosies van liefde”.

Ek onthou die begeerte wat ek gehad het om te sê “Ja hoe kon ek?” maar selfs daarvoor was ek te lafhartig.

My gedagtes loop ’n ver pad, terug na my veertiende jaar, die jaar toe hulle my daar agter die hoë landgoed mure kom sê het dat Carl en Danielle dood is. Die landgoed wat ek tot daardie dag, nog nooit vir een enkele dag verlaat het nie. Daar het ek geleer en gewerk, daar waar hulle al die teorieë wat hulle in hulle boeke gesit het, eers op my getoets het. Daar waar hulle my geleer het om myself so binne in myself weg te steek, dat ek myself nie eers meer kon vind nie.

Terwyl die hof prosedure begin, woel die wete in my. 'Ek Reza Ciske het emosies, ek het iets gevoel wat so vreemd en kosbaar was, en ek wil dit nie deel met hierdie mense en hierdie wêreld nie".

Skielik is die onthou van daardie een enkele dag waarin ek ook ’n vreemde emosie ervaar het by my, daardie dag in my veertiende jaar, die dag toe Carl en Danielle dood is. Die polisieman se sin was duidelik, “Wat van haar eie ouers?”

Manny het net sy kop geskud, en ek het geweet, ‘Iewers in hierdie wêreld het ek ’n ma, ’n ma wat my gebaar het, en wat my lief moes hê,’ en daardie wete het deur my lewe by my gebly, tot hier in my vyf-en-dertigste jaar.

“Die hof roep professor Gordon Wilson na die bank”, weerklink dit, en ek dwing myself terug na die werklikheid. Hy glimlag effens vir my wanneer hy verby stap, en ek kry hom teen my natuur in jammer.

Hulle was al almal daar, Professor Cartney, Professor Jones, Professor Grant, ja almal, en vir almal dieselfde vrae wat hulle met dieselfde onkunde geantwoord het. Ek weet wat almal wil weet, wie is Reza Ciske van Glenvale kliniek, daar vasgevang teen die rotse by die see. Wat voel sy, wat het sy vir haar pasiënt gevoel. Wat is die waarheid agter die selfmoord van Jahn McMaster?

Ek dink aan Glenvale, aan die rotse en die see. Daardie see wat haar tenger liggaam gevat het, en wat weier om hom terug te gee. Hulle het haar daardie onheilsnag sien spring van die rotse af, en daarom aanvaar hulle sy is dood, en daarom is ek hier. Ek skud dit van my af, onderdruk hierdie gevoel, hierdie hoop dat sy nie dood is nie.

Dan begin Jarrod se advokaat se vrae, en ek kry lekker, want ek weet, hoe meer vrae hoe meer leemtes.

“Professor Wilson u is ’n professor in sielkunde, verbonde aan die Glenvale kliniek vir dertig jaar, u is die hoof van die Glenvale kliniek, nie waar nie?”

“Ja, dit is so”.

“U ken Dr. Ciske, nie waar nie?”

“Ja ek ken haar goed”.

“Hoe lank ken u haar?”

“Tien jaar”.

“In watter kapasiteit?”

“As sielkundige by die kliniek”.

Die advokaat vryf oor sy ken en gaan aan, “Waar kom Dr. Ciske vandaan?”

“Sy het haar opleiding aan die Chestermere universiteit as mediese praktisyn, en later as sielkundige voltooi. Sy het ook haar praktiese opleiding in die Chestermere hospitaal voltooi”.

“En voor dit, waar het sy gebly, groot geword met ander woorde?”

Ek voel Manny roer asof hy beswaar wil aanteken, dit is een ding waarvoor Manny Rees bang is, die detail van my kindwees, dit weet ons al twee. Ek stop hom, wat maak dit saak of dit relevant is of nie, laat dit gesê word.

Gordon Wilson glimlag effens vermakerig, en sê dan met ’n stem wat die trots in hom weërspieël, “Dit is tog in mediese kringe algemene kennis”, en hy kyk reguit in my oë. “Reza Ciske is die kind van die gevierde Carl en Danielle Ciske, die mees gerespekteerde sielkundiges op die gebied van die menslike emosies”.

Vir ’n oomblik dink ek dat die ondervraging oor is, maar dan kyk hierdie advokaat Bernard Schultz my een oomblik in die oë, draai terug na Gordon Wilson en vra, “Ten opsigte van Dr. Ciske se emosies, haar emosionele lewe, hoe goed ken u haar?”

Die stilte is voelbaar. Bernard Schultz het hierdie vraag deur die week gebêre vir Gordon Wilson, en ek wil hardop vir hom lag, want ek ken die antwoord, is ek nie my eie hoeder nie. Gordon Wilson is nie uit die veld geslaan nie, maar dat hy nie heeltemal weet wat om te antwoord nie, is duidelik, en Bernard Schultz sien dit.

“Laat ek die vraag effens herbewoord. Ken u haar emosies, hoe tree sy op in haar werk en in haar handel. Is sy ’n oop mens?”

Gordon Wilson dink een oomblik, “Dr. Ciske is ’n baie private persoon”.

“Hoe bedoel u?”

“Wel sy praat nooit oor haarself nie”.

“Net, nie oor haarself nie?” Por Bernard Schultz hom.

“Wel nee, sy praat eintlik oor niks nie”.

“Wil u vir ons sê, dat Dr. Ciske ’n geslote boek is, wat niemand ken nie?”

Manny maak woedend beswaar, ‘dat die advokaat woorde in die getuie se mond lê’, en die beswaar word gehandhaaf.

“Goed laat ek ook hierdie vraag anders stel. U bespreek tog die pasiënte en hul vordering met mekaar. Hoe reageer Dr. Ciske in hierdie situasies?”

Gordon White dink ’n oomblik en sê dan. “Klinies, professioneel”.

Daar is ’n uitgerekte stilte, en dan vra Bernard Schultz ’n vraag terwyl hy my direk in die oë kyk. Hy vra dit vinnig, alles in een sin, asof hy voor die tyd weet dat dit ontoelaatbaar is, maar dat hy dit wil vra, al is dit net om dit gesê te kry.

“Sal u sê dat Dr. Ciske ’n gevoel vir ’n pasiënt kan hê, so ’n gevoel wat ’n pasiënt na selfmoord kan dryf, en dat u met u dertig jaar ondervinding dit nie sal sien nie. Is sy so geslote professor?” spoeg hy die woorde in my gesig.

Manny beseer homself behoorlik soos wat hy opvlieg om beswaar te maak. Daar is vir een oomblik ’n geroesemoes van stemme, maar dan bring die regter almal met ’n swaar stem tot orde.

“Skrap die gedeelte oor die pasiënt se selfmoord, maar ek wil u antwoord hoor oor die res van die vraag Professor”, sê hy duidelik. Gordon White dink ’n baie lang oomblik na en dan antwoord hy, “Ja, Dr. Ciske is so privaat, oor veral haar gevoelens, dat ek dit nie sal weet nie”.

Die stilte is plofbaar, en almal besef dat hierdie ondervraging in ’n doodloop straat is. Wanneer ek opkyk in die regter se gesig, weet ek, dat ook hy weet, dat net twee mense die waarheid ken, ek en Jahn, en dat ek nie die een sal wees wie dit openbaar sal maak nie.

Bernard Schultz stap doelgerig na die regter, “Ek versoek dat die bandopnames wat gemaak is van die sessies wat Dr. Ciske en Mejuffrou McMaster gehad het, aan die hof gespeel moet word”.

Manny is woedend en geïrriteerd wanneer hy praat, “Die bande is al tot vervelens toe deur beide regspanne bestudeer, en daar is niks in nie. My geleerde kollega kan niks teen my kliënt kry nie, en nou rek hy die saak net uit”.

Bernard Schultz kyk hoopvol na die regter, “Ek praat spesifiek van die band waarop Dr. Ciske se sessie die dag voor Mejuffrou McMaster se dood, opgeneem is”.

Manny is nou openlik geïrriteerd. “Ek het tog reeds aan die hof verduidelik dat Dr. Ciske gesê het dat daardie sessie in werklikheid nie plaasgevind het nie, dat juffrou McMaster kort na die aanvang van die sessie aangedui het dat sy ontsteld was, en dat hulle die sessie gestaak het en langs die see gaan stap het”.

“Die hof sal tog na die band wil luister, waar is die band?” Vra die regter terwyl hy my vas in die oë kyk.

“Nog in die bandmasjien in my spreekkamers”, sê ek sonder emosie. Laat hul maak wat hul wil.

“Professor Wilson, u en die hof ordonnans moet die band gaan haal, en dan sal ons die saak om twee uur in my kamers voortsit. Slegs die hof personeel, regspanne en hulle kliënte sal teenwoordig wees”, Daarmee staan hy op en verlaat die saal.

“Kom ons gaan soek iets te ete”, sê Manny.

Ek wil nie, ek wil nie by hom wees nie, ek is so moeg vir hierdie vermakerige mens wat my dwarsdeur my lewe aan hom vasgebind het met die belofte dat hy my ma sal soek. ’n Belofte wat ek weet, lankal weet, hy nie kan nakom nie, want hy ken haar nie, hy weet so min van haar af as ek.

“Nee dankie, ek wil ’n paar uur alleen wees, ek sal betyds terug wees”.

Hy gryp my hier voor die hofgebou amper met dieselfde krag as Jarrod vas, en swaai my sodat ek in sy oë kyk.

“Daar is niks op daardie band nie, is daar?”

Die woede en vrees wissel mekaar af, en skielik walg hy my, hy wat hom verbeel dat hy weet wat in my aangaan, hy wat dink dat hy reg het op my gevoelens.

“Wat wil jy vir my sê Manny, of wat wil jy hê moet ek vir jou sê?” gil ek dit uit, en ek skrik vir die emosie in my stem. Hy skud sy kop stadig heen en weer, en sy gesig is gevul met ’n trek van verbaasde ongeloof. “Ek weet nie hoe God so ’n emosielose mens soos jy kon maak nie, raak niks dan ooit aan jou nie, is daar niks in die lewe wat jy vrees of begeer nie?”

Hoekom die gesprek in hierdie rigting beweeg, weet ek nie, maar dit maak wel seer, en ek wil terug seermaak, “Jy matig jou darem ’n helse lot aan Manny Rees, 'God my emosieloos gemaak het, het jy vergeet wie my vir Carl en Danielle Ciske gegee het. Het jy vergeet hoe julle saamgestaan het om alles wat die moeite werd was van my weg te hou, het jy vergeet van jou sieklike aandeel aan die maak van hierdie emosielose mens!”

Ek skree die woorde uit, en dan ruk ek my los en strompel na my motor, en in my huil dit, 'Ja daar is iets wat ek vrees, en iets wat ek begeer, maar dit sal julle nie verstaan nie, daar was iets so bekend en dierbaar in Jahn, iets wat ek gevoel het ek voorheen geken het.

Dit is wanneer ek eindelik langs die see sit, hier waar ek Glenvale anderkant die baai in die verte kan sien, dat die ‘onthou’ oor my spoel, die ‘onthou’ van daardie een enkele maand in my lewe waarin ek gelukkig was.

Dit is half twaalf in die nag, wanneer die klop aan die deur kom, ek voel die gesteurdheid in my, maar die angs in George Strange, die nagportier, se stem, vat dit uit my uit, en ek haas my na die deur. Wanneer ek hom oopruk staan hy daar, bloed op sy gesig en bewend.

“Dokter jy moet kom help. Die polisie het ’n besetene ingebring. Sy het ons behoorlik aan flarde geskeur met daardie naels”.

Ek wag nie verder nie, maar hardloop deur die gange van die kliniek na die hospitaal.

Sy dit daar in die hoek, klein en tierend soos ’n dier wat vasgekeer is. Haar hare is ’n warboel oor haar gesig, en ek sien net die effense blink van haar oë daaragter. Die mense in die vertrek staan asof versteend. Madge Wallace, die nagsuster, hou die spuitnaald na my uit, en ek neem dit terwyl ek versigtig vorentoe loop. Die een polisieman probeer my keer, maar ek wink sy hand kalm van my arm af.

Haar oë bly op my gesig, en ek vra sonder om van haar weg te kyk, “Wie is sy?” “Jahn McMaster, Senator Jarrod McMaster se suster”, antwoord die polisieman sag.

Dit skok my. Kan hierdie stukkie verlorenheid die vrou wees wat amper weekliks in die nuus is, modelvrou van die jaar, wêreldreisiger, dit klink onmoontlik, maar ek weet die ware ‘ek’ sien jy nie in klere nie.

Wanneer ek net buite haar reik is, gaan sit ek op my knieë voor haar, “Ek is Dr. Reza Ciske, ek kan jou help, as jy wil”.

Haar oë knip eenkeer en dan voel ek die intensheid waarmee sy na my kyk. Die volgende oomblik werp sy haar met ’n kreet op my, maar ek is gereed, ek gryp haar met geweld met my regterarm teen my vas, en voordat sy weet wat haar tref, spuit ek die verdowings middel deur haar klere in haar bobeenspier in. Ek gooi die spuit na agter, en wys die ander om stil te staan. Ek voel haar arms krampagtig om my nek klou, en lank voor die inspuiting moet werk, voel ek haar rustig word in my arms.

Die polisiemanne help my haar versigtig op die trollie plaas, en albei se stukkende gesigte val my op. "Suster McRae ontsmet jy George en die polisiemanne se wonde, en gee elk ’n tetanus inspuiting. Madge kom saam met my sodat ons die pasiënt kan opneem en ondersoek.

Ek kyk na die polisiemanne, “Ek wil ’n volledige verslag van julle hê, vandat julle die pasiënt gesien het, tot nou”.

Hulle kyk my verbaas aan. “Sy kan beserings hê, en dit is om julle te beskerm”. Hulle knik instemmend.

Behalwe vir ’n sny bo haar oog, wat ek met ses steke toewerk, het sy net ’n magdom blou kolle op haar lyf. Ons trek haar hospitaal nagklere aan, en ek bind haar hande aan die bed se kante vas, sodat sy niemand kan beseer nie.

Ek los haar in Madge se bekwame sorg, en gaan terug na my kwartiere om ’n verslag op te stel.

Gordon White kom sien my half ses in die oggend, “Ek hoor jy het die McMaster pasiënt opgeneem”.

Ek knik instemmend. “Senator McMaster was by my, hy wil hê dat haar opname ’n geheim bly, en hy wil hê dat die beste sielkundige in die kliniek na haar moet omsien”.

Hy dwing my met sy stilswye om na hom te kyk, “Ek weet jy het reeds te veel pasiënte, maar Reza, ek wil hê dat jy vandag nog met Jahn McMaster begin werk”.

Ek knik net, maar in my is ek bly. Laasnag toe ek in haar gesig gekyk het, was daar vir my iets so ontsettend bekend, so ontsettend dierbaar, dat ek ’n gevoel van ‘ek ken jou,’ gekry het.

Wanneer ek die kamer inkom, is sy wakker, en wanneer die blou oë na my kyk, is die ‘ek ken jou’ terug. Sy lyk so kalm soos wat ek nie gedink het sy eers in die volgende paar weke sou wees nie, en iewers in my steek die ongewoonheid daarvan vas. Was gisteraand net ’n enkele geïsoleerde ineenstorting, is dit ’n aanhoudende toestand, of was gisteraand net ’n rolspel? Ek laat dit eers daar, maar ek weet dat ek baie versigtig vir haar moet wees.

“Ek is Dr. Reza Ciske”, sê ek, terwyl ek ’n stoel nader trek en gaan sit sodat ons gesigte binne ’n voet van mekaar is.

“Ek weet”, sê sy sag, en haar houding vang my effens onverhoeds.

“Hoe voel jy vanoggend?”

“Baie goed, en ek sou nog beter gevoel het indien my hande los was”.

“Ek kan hulle losmaak as jy my beloof dat jy klaar baklei het”.

Sy lag klokhelder en die verwondering in my duur voort.

“Jy weet dokter, ek is twee en vyftig jaar oud, en ek het vir die grootste gedeelte daarvan gesoek na iets wat ek nooit gedink het ek sal vind nie, maar ek het dit gevind, en ek het niks om verder oor te baklei nie”.

Alles wat sy sê, en doen, is vir my asof sy vir my iets wil sê, maar dit is onverstaanbaar. In my huiwer die gedagte dat ek versigtig moet wees, dat sy ’n operste manipuleerder kan wees. Ek besluit om haar te toets en maak haar hande los. Sodra haar hande los is, neem sy my linkerhand in hare en druk dit aan haar lippe, en ek voel die verwondering aan haar daad.

“Ek is Jahn Xavier. McMaster is die van wat hulle my gegee het toe my ma met Jarrod se pa getroud is, en vir jou wil ek Jahn Xavier wees”.

Alles aan hierdie vrou is so ontsettend vreemd, en teen my beterwete neem sy besit van my gedagtes, en so begin my een enkele maand met Jahn Xavier, die vrou wat in my lewe gekom het om hom in totaal om te dop.

Ons sit in ’n kring om die tafel, met die bandmasjien tussen ons. Die oomblik wat die band begin loop vul my stem die vertrek, “Jahn kan ons praat oor daar toe jou ma met Jerome McMaster getroud is, hoe dit jou beïnvloed het, en hoe jy gevoel het”.

“Ek voel nie goed vandag nie, ek weet nie of ek vandag daaroor wil praat nie”.

Wanneer ek opkyk sien ek Jarrod se gesig, so bleek soos die dood, en ek weet dat hy iets vrees, maar ek weet dat daardie band verder leeg is.

Dan vul haar stem die vertrek, en is dit my beurt om so bleek soos die dood te word, want dit het ek nie opgeneem nie, wat nou gesê word ken ek nie, het ek nog nooit gehoor nie, en in my groei die hoop en sterf dit weer, die opname kon enige tyd voor sy dood is gemaak gewees het. My kamers is nooit gesluit nie, en ek onthou die paar keer wat sy so onverwags na my gekom het sonder dat enige iemand haar gesien het.

“Nee ek moet nou daaroor praat, as ek dit nie vandag sê nie, sal ek dit nooit weer kan sê nie”, Weerklink haar stem, en die stilte in hierdie kamer versmoor my, en ek weier om van die tafel af op te kyk.

“Dit was twee maande na my ma-hulle verongeluk het, ek was sestien en Jarrod vier en twintig. Ek was lief vir Jarrod, en voor dat ek my kon kry, was ek swanger. Ek was in ekstase ‘Ons gaan ’n kindjie kry,’ het ek hom gesê, maar hy was woedend”.

Ek voel die lewe uit my gaan, en ek weet dat wat Jahn ook al met hierdie band bedoel het, sy daarin geslaag het, want elkeen in die vertrek is tot in hulle siele geskok.

“Hy het my weggestuur Engeland toe, en hy het my kindjie weggevat en laat aanneem. Ek het haar net een enkele oomblik gesien, nie eers vasgehou nie, en ek het gesweer dat ek sal soek tot ek haar kry, al sou dit my hele lewe neem”.

Daar is ’n oomblik stilte, en dan gaan haar stem voort, “Jare gelede het ek met sekerheid geweet dat Jarrod nie weet waar ons kindjie is nie, en het ek Josh Roux aangestel om haar te soek”.

Ek weet wat gaan kom, en elkeen in die vertrek weet, en ek hou my oë op die tafel.

“Hy het haar gekry, presies ’n maand gelede, hier in die kliniek. Jy is my kindjie wat ek my hele lewe gesoek het, en nou wil Jarrod my môre hier wegneem, weg van jou af, ek kan nie meer nie, ek kan nie meer sonder jou nie”.

Ek hoor die asems, ek weet almal kyk na my, maar ek bly sit, daar moet nog iets wees, iets vir my, en in hierdie huiwering van my bring ek hulle onder die indruk dat ek weet wat volg, en dan sê sy dit, “Ek het jou so lief my kind, kan jy my ooit liefkry?”

Ek strompel die vertrek uit, en in die aangrensende kamer huil ek, vir die eerste keer in vyf en dertig jaar huil ek, en dit is vir my ’n bittere ondervinding. Hy trek my in sy arms in hierdie ou gryskop regter, en hy troos my, en hou my vas deur my verlorenheid.

“Hoekom het jy nie maar aan die begin die band gegee nie, dan was jy die hartseer van die hofsaak gespaar”.

Ek weet dat ek lieg in my stilswye oor my kamtige kennis van die band, maar ek doen dit vir haar, “Het almal nie al genoeg seergekry nie?”

Hy vee my trane met sy sakdoek af, vou die sakdoek netjies op, en gee dit vir my, “Hou hom, jy sal hom nog baie nodig kry”.

Dan vat hy my gesig tussen sy hande, kyk in my oë en sê, “Gaan weg, en gaan probeer die rus en kalmte vind wat sy jou wou gee. Jy hoef nie weer terug te kom hierna toe nie, wat nog afgehandel moet word, sal ons self afhandel”.

Ek gaan weg, en ek onthou haar liefde, haar vashou van my hand, haar vryf van my wang, en veral haar lippe teen my wang daardie laaste dag in die hospitaal.

Dit is laatnag hier langs die see, hier by Jahn se rotse, Jahn se stukkie see, en in my slaan dit vas, my moeder se stukkie lewe in my. Ek bid vir die eerste keer, ‘Here as sy dan dood is, gee haar liggaam dat ek haar kan begrawe waar ek haar kan kry,’ maar Hy laat Hom nie versoek nie, Hy loop ons paaie in Sy eie tyd.

Ek skrik nie wanneer die persoon skielik by my staan nie, en in die maanlig eien ek hom, Jarrod McMaster. Hy het oud geword in hierdie ure, en hy lyk nou sy sestig jaar.

“Die Here weet ek is jammer, as ek dit oor kon doen, sou dit anders gewees het. Ek het haar so lief gehad, maar ek het my status liewer gehad, dit het my ’n leeftyd van eensaamheid en hartseer gebring”.

Ek dwing hom weg met my stilswye, en my weiering om na hom te kyk. Hy het my nie liefgehad nie, en dit kan ek hom nooit vergewe nie. Ek weet dat hy sal terugkom, soos hy sonder ophou in Jahn se lewe teruggekom het, en ek weet dat ek moet wegkom, vandag nog wegkom, want ek het nie krag vir hierdie man en hierdie lewe nie.

Ek pak niks, ek weet dat ek sal weggaan, maar ek weet dat ek niks nou wil saamneem nie. Later sal ek kom klaarmaak wat hier klaar te maak is. Ek het reeds my bedanking ingedien en vir Gordon White gesê dat ek weggaan, ek is nie meer verbonde aan hierdie kliniek nie, ek is aan niks gebonde nie.

Ek stap terug na die rotse toe, en die Here alleen weet wat ek hoop om daar te vind, maar ek bly daar en ek bid, want hoe anders sal ek ooit vir haar kan sê dat ek haar liefgehad het, dat ek deur ons hele samesyn hierdie liefde gehad het, maar dat ek te bang was om dit te erken. Hoe kan ek haar sê dat die enigste teorie wat nie op my getoets was nie, die liefde was, hoe kan ek haar ooit sê dat ek haar liefhet en haar kind wil wees.

Hy vind my daar by die water, “Josh Roux”, stel hy homself voor, en ek huil, en hy troos my nie.

Hy hou ’n koevert na my uit en ek neem dit.

“Sy het die plekkie in Cornwall gekoop, dertig jaar gelede, sy wou ’n tuiste hê wanneer haar kind terugkom. Alles wat sy liefgehad het, het sy daarin versamel, vir wanneer julle twee Xaviers daar sou gaan bly”.

Hy kyk ver oor die see, en gaan aan, “Sy wou altyd hê dat jy daar sou gaan woon, daarom weet ek, en jy, dat jy moet gaan, so gou as moontlik moet gaan”.

Ek kyk in sy oë, en ek weet dat hy opreg is. “In hierdie koevert is ’n enkel kaartjie na Cornwall, die sleutel van haar huis, geld om jou daar te kry, en jou paspoort”.

Ek verstaan nie wat hy probeer sê nie, en haal die inhoud uit. Die kaartjie aan die sleutel is geskryf in ’n fyn handskrif en ek weet dit is hare, en ek huil. Wanneer ek die paspoort oopmaak is dit ek, maar ook nie ek nie. Ek weet dit is sy, ’n baie jong Jahn, maar sy.

Ek lees dit, ‘Jahn Xavier, geboorte datum, 28 Februarie 1984’ my geboorte datum, en ek verstaan steeds nie.

“Het jy gedink dat sy vir een enkele dag sou leef asof jy nie bestaan nie. Sy het jou geboorte geregistreer, sy het vir jou paspoorte gekry, sy het vir jou ’n bankrekening geopen en almal het geglo dat jy by jou vervreemde vader woon totdat sy jou sal kry. Dit was so maklik, as Jahn McMaster het sy toegang tot die wêreld gehad, daar was geen rekord in enige land waar hulle Jahn Xavier aan kon koppel nie, en sy het haar eie gegewens gebruik om vir jou en vir haar ’n lewe te skep, ’n lewe weg van Jarrod af”.

Ek huil oor alles wat kon wees, en dit wat weg is, en nou troos hy my, “Dink jy vir een oomblik dat hierdie see haar gees gevange kan hou, sy wat ’n leeftyd lank beplan het aan ’n leeftyd”.

Ek wil nie verstaan wat hy sê nie, want ek wil nie hê dat sy in die dood vry moet wees van al haar hartseer nie, ek wil haar in die lewe by my hê. Ek onthou die predikant se woorde daardie dag hier langs die water, “In God is sy vry”, en ek wil dit nie hoor nie.

“Die kaartjie is vir ’n vlug wat vannag vertrek, indien jy wil kan jy vandag gaan”, sê hy, en ek wil, ek wil iewers gaan onthou van al die ure wat ons mekaar liefgehad het, en ek wil dit koester.

“Kom dat ek jou lughawe toe neem, daar is nog ses ure voor jou vlug, en ek sal vir jou ’n ete koop”.

Hy begin stap in die rigting van die kliniek, maar ek keer hom. Ek het niks daar nodig nie, en vir die eerste keer in my lewe is ek heeltemal vry, heeltemal irrasioneel in my optrede.

“Neem my lughawe toe, hulle weet dat ek weg gaan, hulle sal verstaan, en u kan later my besittings kom opruim, indien ek nie terugkom nie”.

Die weer is koud en trietsig, soos my gemoedstemming, en ek kom eers as ons stop tot verhaal, “Xaviers Rus” blink die letters in die motor se ligte, en die oomblik is te veel vir my.

Voordat ek deur die groot houtdeur gaan, kyk ek een enkele oomblik terug na die woelende see, en sy onrus kom lê in my. Die huis is warm en deur die portaal sien ek die kaggel brand, en ek weet dat Josh iemand moes laat weet het dat ek kom, en ek is dankbaar vir hierdie bietjie ‘welkom maak’.

In die lig van die kaggel sien ek haar goedjies, alles fyn soos sy, alles op hul plek, en in my huil dit. Ek voel die teenwoordigheid, en ek ruik haar reuk, en in my gaan staan die lewe stil. Haar arms om my lyf is soos ek dit onthou, maar die onwerklikheid staan tussen ons en dan draai sy my om, neem my gesig in haar hande en sê, “Dit is ek, jou moeder”, en ek snik my vreugde, my hartseer, my ongeloof uit.

“Het jy vir een oomblik gedink dat ek na vyf-en-dertig jaar se soek, en planmaak, nie ’n plan sou kon maak om ons geluk te verseker nie?” vra sy met troos in haar stem.

Ek verstaan nie wat alles in hierdie sin opgesluit is nie, maar ek weet dat ons ’n leeftyd oor het om te verstaan, en ek druk haar teen my vas, en ons is gelukkig, hier in ons huisie teen die see, waar ons twee Xaviers tot rus gaan kom.