Die verhale van
NP Barry

Erin

Geskryf in Mei 2011 / Ongeveer 30 minute leestyd (6 194 woorde)

Dit is net ’n Gods bestiering dat Ariël daardie spesifieke oomblik uit die stalle stap, toe die ligte vliegtuig deur die digte wolke sigbaar word, en met ’n dowwe plofslag agter teen die berg vas vlieg.

Sy staan een oomblik stil en verskeie gedagtes flits deur haar kop, maar dan ruk haar nugterheid haar reg, en sy weet, sy, Piet, en haar broer Aubrey moet dadelik gaan kyk of iemand die ongeluk oorleef het, maar sy weet ook dat dit ’n helse taak in hierdie koue sneeu belaaide berg gaan wees, hier waar die sneeu plek, plek, meters diep is.

Sy roep luid die waenhuis in, “Piet, boeta, kom ons moet berg-op, ’n vliegtuig het teen die hang vasgevlieg”.

Dan is hulle drie soos ’n span by die bergklim toerusting, en vat hulle vinnig en behendig dit wat hulle nodig sal kry. Hierdie is hulle wêreld, hier aan die basis van die hemel waar die sneeu heel jaar meters diep lê, dit is wat hulle ken, hierdie berg en hierdie sneeu.

Hulle draf huis toe om te gaan verklee. Wanneer hulle in die huis instap, weet die twee vroue, en die ou man wat met die klein dogtertjie tussen hulle sit, dat daar fout is.

“Mamma pak vir ons kos asseblief. Ek, Piet, en boeta gaan berg-op, ’n vliegtuig het teen die hang vasgevlieg. Pappa pak jy asseblief my mediese tas, jy weet wat ons nodig sal kry”

Ma Cilie pak inderhaas die twee rugsakke kos en die warm koffie bottels met genoeg warm drinkgoed om ’n tog van 12 uur te kan hou, almal weet dit is goeie tien, tot twaalf uur se taak wat voor hul lê.

Ariël tel klein Zoe op van die kussing, en druk die tengerige sagte kinder lyfie een oomblik sag teen haar vas. Dan soen sy die rosige lippies en met swarigheid in haar hart, gee sy die tengerige lyfie, wat een groot glimlag op die gesiggie het, vir ma Cilie.

“Kyk na my hart se punt, en bid julle vier wat agterbly, vir ons”.

“Ma Cilie, jy en Marie moet vir my alles regkry vir ’n moontlike operasie as die persoon, of persone die ongeluk oorleef het, hopelik oorleef het. Hou die stoof, en kook water, aan die gang en maak die teater reg met alles. Pappa kry jy reg wat jy weet sal werk vir wat daardie mense nodig sal hê, as hulle nog leef”.

Vir almal is dit niks ongewoons nie, Ariël is ’n geneesheer, ’n baie goeie geneesheer en narkotiseur, en sy versorg al die berg bewoners met al hul mediese behoeftes. Marie is ’n teater suster, en Piet ’n opgeleide verpleër wat ook met die operasies help. Dan Gabriel Kluster, die grootste kruie kenner, ontwerper van natuurlike medikasie waarmee die wêreld mense herstel, ongelooflike mediese dokter wat die wêreld ken, maar net nie weet waar hy is nie.

Dan is sy en die twee mans buite in die koue, en is hulle op pad na die noodlot van ’n onbekende persoon. Al drie weet, hierdie gaan ’n moordende tog wees wanneer hulle opkyk teen die hang, wat meer as 200 voet hoog bo hul toring. In goeie omstandighede is dit ’n uitdaging vir selfs die beste klimmers, wat nog in hierdie omstandighede.

Al drie weet dat hulle ‘die beste klimmers’ is, hier teen hierdie hange het hulle opgegroei, nie een enkele klip is vir hulle vreemd nie, nie eers onder die digte sneeu nie, en hulle weet wie ook al daardie onbekende is, hulle is sy beste kans.

Dit vat al hul vernuf om deur die digte sneeu te kom, en uur, na uur, hang hulle behoorlik teen die bergwand aan die toue, hulle vorder stadig, maar seker, en as ’n span, klim hulle vyf ure later oor die laaste krans, en dan lê Bakens kloof teen die Noord hang aan hul regterkant, en die wit geysde grasland aan hul linker kant.

Hulle haal die verkykers uit en fynkam die wit grasveld, maar besef gou dat daar niks is nie, hulle weet dat die vliegtuig teen die noord hang vas is, en moontlik iewers in bakens kloof afgestort het.

Dan fynkam hulle die Noordhang vir skade, en almal sien gelyk die oopgebarste sneeu muur, en dan is hulle op pad na die plek wat ongeveer vyf honderd meter voor hulle lê.

Soos hulle vorder, kan hulle reeds met die blote oog sien waar die vliegtuig vas gevlieg het.

Wanneer hulle oor die rand van baken kloof kyk, sien hulle die blink lyf van die ligte vliegtuig slegs meters onder hulle hang in die web van die dekades oue bobbejaan toue, met die vliegtuig se vlerke vasgedruk teen die wande van die kloof.

Hulle besluit vinnig hoe hulle die redding wil doen, en dan is hulle al drie besig om die toue te anker en besluit Ariël dat sy sal afgaan na die vliegtuig, aangesien sy die ligste is, en hulle bang is dat die bobbejaan toue sal meegee en die vliegtuig die honderde meter na benede sal stort.

Ariël bereik die vliegtuig binne ’n paar minute, dan klou sy aan die kant van die kajuit vas, terwyl sy haarself in ’n posisie kry om in die plat gedrukte kajuit in te kyk.

Dit is met die tweede swaai dat sy die persoon sien, en die hoop gaan uit haar uit, wanneer sy die beweginglose bloed belope figuur sien, maar dan kom die optimisme wat hierdie vergete plek jou gee, en met ’n derde swaai land sy bo-op die kajuit, en versteen sy as die vliegtuig effens sak, maar dan skop hy weer vas.

Sy gly teen die tou af, totdat sy op haar maag op die neus van die vliegtuig lê, en sy haar kop deur die stukkende venster kan steek. Sy stoot haar hand versigtig die kajuit in, en vat liggies aan die figuur, maar daar is geen beweging nie.

Dan vat sy die tou wat om haar middel is en sonder om te voel of die vlieënier leef, bind sy dit om sy lyf waar hy vasgedruk tussen die stoel en die metaal sit. ‘Maak nie saak of hy leef, of nie, sy sal hom afvat huis toe, hier sal sy hom nie laat nie’.

Dan klim sy in die kajuit in, en sy weet, as die vliegtuig nou val is hulle geanker en behoort Piet en Aubrey, hulle te kan optrek, indien sy hierdie mens uit die kajuit kan bevry.

Sy ondersoek die man vinnig, en sy voel haar hart ’n slag mis, “Hy leef”, skree sy haar vreugde uit, en die twee mans stuur ’n gebed na bo.

“Stuur vir my die “Crow Bar” af, ek sal die metaal moet wegbuig, hy sit vas”.

Terwyl sy wag ondersoek sy die vlieënier so goed sy kan, en besef sy dat hy definitief albei bene gebreek het, en wanneer sy na die deurskynende wit gesig onder die bloed kyk, besef sy dat hy inwendig kan bloei, en dat hy reeds baie bloed verloor het.

Sodra sy die geklingel van die metaal teen metaal hoor, skree sy, “Kry die aarvoeding reg, en maak die draagbaar reg”.

Dit vat al haar krag en vernuf, na ’n uur se gesukkel is die vlieënier los, en roep sy sodat die twee mans die draagbaar kan laat afsak. Sy trek die ligte aluminium draagbaar tot bo-op die neus van die vliegtuig, en sy besef sy sal hulp nodig hê om die man uit die kajuit te lig.

“Piet kom jy ook af, ek dink nie ek is sterk genoeg om hom uit te trek en op die draagbaar te kry nie, ek het alles geanker, en ons behoort veilig te wees”.

Sodra Piet Krynauw langs haar op die vliegtuig se neus land, voel hy weer die bewondering wat hy deur sy lewe vir hierdie mensie het, wanneer hy sien hoe sy met haar tengerige lyfie die metaal met geweld weggebuig het.

Dit vat hulle twintig minute om die man op die draagbaar vas te maak, en dan klouter Piet teen die toue uit, om Aubrey te help om die draagbaar na bo te hys.

Dit vat Ariël ’n paar minute om die aarvoeding te koppel, dit behendig vas te bind, en dan begin hulle die terugtog. Piet en Aubrey neem die eerste dra beurt, en Ariël kontroleer die man se lewens tekens. Sy besef dat sy temperatuur ontsettend laag is, en weet in een opsigtig is dit ’n goeie ding, maar aan die ander kant kan sy liggaam in totale skok gaan van die koue. Sy weet die kombers waarin hulle hom toe gewikkel het, behoort binne ’n redelike kort tyd die nodige warmte te bring.

Die tog na benede is hel, en wanneer hulle vyf ure later op die gelyk grond staan, onder die hang, is Gabriel Kluster, Dwayne Klutz en Ulrich Messah daar om te help, en voel Ariël die vreugde en verligting in haar, ‘Dit is haar pa, hy met sy ongelooflike voorgevoel, sy ongelooflike aanvoeling, hy is weer hier om te red wat te redde is’.

“Dankie pappa, dankie Dwayne, Ulrich”, en dan neem hulle die draagbaar en vorder die groep vinnig die berg af.

Sy gee haar pa haar bevinding tydens die staptog, en hy knik sy kop.

“Pappa moet hom vir my ondersoek as ons tuis is, en dan moet ons besluit hoe ons dit wil doen”.

Hy knik sy groot grys kop, en hy voel die toegeneentheid vir hierdie besondere kind van hom.

Wanneer hulle die warm huis instap, voel Ariël, Aubrey en Piet die vermoeienis in hulle, die koue en die totale uitputting, en hulle weet die tog het sy tol geëis.

Dr. Gabriel Kluster ondersoek die man sodra hulle hom op die bed neersit, en hy weet dat Ariël reg is, gebreekte bene, gebreekte arm, gesig beserings wat moontlik hoof beserings kan wees, maar dit is duidelik dat die vlieënier ’n valhelm opgehad het, en dit kan dalk erge hoof besering voorkom het. Dan bevestig hy haar vermoede dat daar inwendige beserings is, wanneer hy na die geswelde buik kyk.

Hulle trek sy klere uit, en Marie was die bebloede liggaam so goed sy kan, en dan soek Ariël sy klere deur en kry sy, sy beursie, sy vlieg lisensie, en vlug rooster.

“Werner Madison, dit is wat sy ID en vlieglisensie sê, A-positief bloedgroep, vyf en dertig jaar oud”.

“Wel die bloedgroep is van groot hulp, ek, Aubrey en Piet is almal A-positief, so ek dink ons moet dadelik elk ’n eenheid bloed skenk, want ons gaan bloed nodig hê, hoe voel julle?”

Sy kyk na die ander twee.

“Reg met my, sê albei dadelik”.

“Marie sal jy alles gereed kry sodat ons dit kan doen, pappa wat dink jy?”

“Ek dink ons moet gou kyk wat ons met die X-strale kan sien, en dan maar dadelik opereer”.

In haar dank sy God en haar pa, vir die X-straal masjien wat hy drie jaar gelede met soveel moeite teen die berg op laat bring het. Die tyd toe sy met klein Zoe huis toe gekom het, die een masjien wat verseker dat sy Zoe kan versorg.

“Ja kom ons kyk wat ons sien, en dan besluit ons. Dit sal nie bydra tot sy kanse as julle te moeg is nie, want dit kan tien of meer ure wees. So kom ons sien wat ons wys word”.

Die oomblik wanneer Ariël op die bed gaan lê, en Marie die naald in haar arm sit, weet sy dat sy tot die dood toe moeg is, weet sy dat sy eers moet rus, dat die afgelope twaalf ure die lewe uit haar, en die mans gevat het, en dan verval sy in ’n semi-koma, en laat die ander haar en die twee mans slaap vir ’n paar uur.

Gabriel Kluster neem al die X-strale wat hy weet hulle nodig het, en wanneer hy dit een, vir een teen die lig kaste inskuif, weet hy dat Werner Madison slegs as gevolg van God se genade nog asem haal. Weet hy, dat hy en sy familie vannag al hul mediese kennis nodig sal hê om hierdie stukkende liggaam te red.

Wanneer Ariël haar oë oopmaak, dink sy dat sy slegs ’n oomblik ingedut het, maar wanneer sy die ander sien, weet sy dat sy geslaap het, ’n hele paar uur geslaap het, en voel sy uitgerus en sterk.

Sy staan dadelik op, en haar ma is daar met haar bord kos.

“Jy moet nou eers eet, dan was, en dan is pappa en die ander reg vir jou in die teater”.

Sy eet haastig, haastig noudat sy die krag het vir wat voorlê, en sy het skielik die grootste begeerte om daardie man te red, hierdie Werner Madison wat so stukkend is.

Wanneer hulle gereed is, neem hulle hande, en dan bid Gabriel Kluster tot die God wat hulle hier bo teen die voet van die hemel veilig hou, en bewaar.

“God, ons God, ons is in jou hande, neem jy ons hande en rig dit tot u eer, amen”.

Hulle begin met ’n twaalf-uur lange geveg om die lewe van Werner Madison, maak hulle hom oop, sien hulle die skade, herstel hulle die gekeurde ingewande, gebruik hulle dit wat Gabriel Kluster, Ariël en Aubrey die afgelope jare ontwikkel het, en herstel hulle dit wat geen ander chirurg moontlik voor sou kans sien in hierdie omstandighede nie, want hulle het kennis en vernuf wat nodig is.

Ariël neem haar intrek in die kamer waar hulle en Werner Madison om sy lewe veg, bly daar, slaap daar, bid en leef daar. Sien die man onder die swelling, onder die bloedbelope gesig uitkom, sien sy ongelooflike aantreklike gelaatstrekke terug kom, sien hom ontvou in die pragtige mens wat hy is, soos die geboorte van ’n vlinder uit die versteekte diepte van die kokon, en dit raak haar aan.

Dit is vier-en-twintig dae later wanneer hy sy oë oopmaak, en vir een oomblik is die vreemdheid daar, die vreeslike vrees, en dan haar hand op sy wang, haar gesig in sy gesigs veld.

“Moenie bang wees nie, Werner, jy is veilig”, dan sluit hy sy oë, en stroom die rus oor hom, en slaap hy weer.

“Hy is by julle, hy het sy oë oopgemaak, ek dink die ergste is verby, nou kan ek gaan rus”.

Sy gaan na haar kamer, val op haar knieë neer, dank God, en verval in ’n slaap wat haar vat tot daar waar Werner vir vier-en-twintig dae was, en sy voel die vrede aan.

Wanneer sy die kamer inkom die volgende oggend, is sy oë oop, en is almal daar, haar ma met sy hand in hare, Zoe wat knus teen sy bors lê met haar elfagtige gesiggie, en haar handjies wat met sy baard speel, en hy met rus en lewe in sy swart oë.

“Hoe lyk hy pappa, hoe voel jy”. Vra sy met vreugde in haar stem, en almal kyk op, dit is Ariël, die Ariël wat vir die afgelope drie jaar geen vreugde getoon het nie, wat net elke dag in uiterse ongeluk geleef het, in haat geleef het, en hulle vreugde vir hierdie verandering is daar.

“Hy lyk goed, ek dink die ergste is verby, ek dink hy is reeds op die pad van herstel, heeltemal herstel”.

Haar blik vind sy oë, sy sien die herkenning, die onverbloemde dankbaarheid, en hy sien die vreugde daar, vreugde vir sy lewe, en dit bring vreugde in hom.

Sy laat almal die kamer verlaat en dan begin sy hom stadig ondersoek, elke duim, en gee sy hom die terugvoer oor wat sy beserings was, oor wat sy liggaam die afgelope vier-en-twintig dae deur is, en hy luister, en in hom word ’n lus vir die lewe gebore, daardie lus wat hy gedink het weg is, en hy is tevrede.

Sy bly by hom, verbind hom weer, werk sag en teer, en hy voel dit aan.

Oor die volgende weke bly hulle by hom, los hom nooit alleen, en Zoe groei aan hom vas en hy aan haar, en hulle gesels met hom, leer hom ken, miljoenêr, ’n man met alles in sy lewe, maar vir hulle is net sy herstel belangrik, monitor hulle sy herstel, weet hy nie hoe besonders hy is nie, hoe tegnieke wat net aan hierdie wêreld behoort, in hom ingeplant is. Herstel hy met ongelooflike spoed, herstel hy met die medisyne wat die wêreld voor wag.

Leer hy hulle ken deur, dit wat hulle wil deel, en bly hulle diepste geheime weggesteek. Leer hy om hulle lief te kry, ongelooflik lief te kry, en hy voel tuis. Dink hy oor wat ongesê is, ‘wie se kind is Zoe, is Ariël getroud, was sy getroud, wat doen hulle hier buite die wêreld se grense’, en hy voel die woeling in hom as hy aan Ariël dink, as sy hom aanraak, en hy het ekstase in hom.

Staan hy binne ses weke op sy eie bene, en is dit vir hom ongelooflik dat hy so kon herstel, begin Ariël met fisioterapie, en bring sy, sy krag terug, bring sy die lus vir lewe wat hy gedink het hy verloor het terug in hom.

“Jy behoort sterk genoeg te wees om af te gaan in ’n paar weke, indien die pad ondertoe gangbaar is, jammer ons kan niemand laat weet dat jy leef nie, dit is nou maar eenmaal iets waarmee ons nege maande van die jaar saamleef, die totale afsnyding van die buite wêreld”.

Werner is nie spyt nie, in hom erken hy dat hy bly is, dat hy hierdie afgesnyde maande nodig gehad het om perspektief in sy lewe te bring, hom op die regte pad te kry, hom by die regte mens te kry, hierdie ongelooflike mensie met haar klein Zoe.

Leer hy die waarheid oor Zoe, brosbeen siekte, die feit dat selfs net die skiet van ’n vinger teen haar beentjie ’n breek kan veroorsaak. Leer hy hoe gevorder hul mediese kennis is, hoe ver hulle gevorder het om moontlik dit wat Zoe makeer te kan herstel. Weet hy dat dit naby is wanneer hy kyk na die herstel van sy gebreekte lyf in ses weke, en hy weet hy is so bevoorreg.

Kry hy stadig die antwoorde van wie hulle is, wat hulle hier doen, maar niks oor Ariël nie, wie is sy en waar is Zoe se pa.

Stap hy stadig saam met haar buite in haar berg. Leer hy haar liefde vir die berg ken, vir haar mense ken, veral vir Zoe ken, en leer hy die diepte van sy gevoel vir haar ken.

“Ek wil eendag as ek heeltemal herstel is, terugkom, sodat jy my kan opneem na my vliegtuig”, probeer hy ’n pad oopmaak vir terugkom, ’n pad wat haar in sy lewe sal hou, en sy sê ja, want sy weet dat dit wat sy vir hierdie groot mooi man voel, iets is wat sy nooit weer sal voel nie, iets groter as selfs haar liefde vir hierdie wêreld wat haar so betower.

Dan die vraag wat haar teister, “Waarom was jy in hierdie lugruim, hierdie onherbergsame gedeelte wat deur vliegtuie bo alles vermy word?”

Hy dink diep, hy weet wat hy moet sê, as hy die waarheid wil praat, ‘Dalk het ek gesoek wat julle het, vergetelheid, wegkom van ’n wêreld wat so leeg is, vir my so leeg was. Dalk die opwinding om te vlieg waar niemand ooit was nie,’ Maar hy kan nie vertel van sy stryd met die lewe nie, die lewe van glans en glorie, van eensaamheid, van valse mense, en vir een vlietende oomblik sien hy haar gesig, Petro, en skielik voel hy niks, skielik is hy ontslae van sy gevoel vir Petro Greyvenstein, en hy kyk na Ariël en hy weet waarom, en hy lieg, want nou maak dit nie meer saak nie.

“Ek glo dit was fout met my instrumente, op ’n stadium het ek gedink dat die instrumente vas gevries was, maar ek weet nie, ek kon niks sien nie, het nie herwaarts of derwaarts geweet nie”.

Sy kyk hom in die oë, en sy weet, dit is die helfte van die waarheid, maar dit maak ook nie meer saak nie, hy leef, en sy het hom vir ’n tydjie in haar lewe, en dit vee al die verkeerde redes vir wat gebeur het uit.

Hy word met sy krukke ’n deel van hul span, loop stadig, swaaiend met die gips bene tussen hulle in die sneeu, help met die oes van die kruie wat net hier vyf-duisend voet bo seevlak groei, net in die koudste van koud uit die aarde skiet, en hy besef wat die uitdagings is om hier te leef, hier waar niemand ooit kom nie, hier buite die grense van die wêreld.

Lag hulle saam, sit met stomende koppies koffie saam aan die voet van die hang, kyk in mekaar se oë, maar bly alles ongesê. Albei bid dat die dae stadig sal verby gaan, stil sal staan, sodat hierdie wonderlikheid sal voortduur.

Dan is die gips af, en spandeer hy, Zoe en Ariël ure saam met die fisioterapie, die soepel maak van sy stywe ledemate, en hy annekseer Zoe, dra haar orals, sit haar net neer as sy moet gaan slaap, wanneer die ou liggaampie te seer is vir hanteer, en sy hou aan hom vas, groei aan hom vas, en hy weet dat hy nie weg wil gaan nie, nie weg kan gaan nie.

Die besluit word uit hul hande geneem, wanneer die soekgeselskap vier weke later deur die sneeu die opstal nader, en in teestelling met hulle oorstelpte vreugde dat Werner Madison leef, voel Ariël haar wêreld ineenstort, en wanneer sy in Werner se oë kyk, is die boodskap daar, en sy wag om hom alleen te sien.

Wanneer almal rustig raak, die ses man geselskap in die werkers kwartiere gehuisves is, en almal ’n warm aandete genuttig het, vind hulle oë mekaar, en dan stap hulle die wit geysde randte in, en wanneer hulle buite sig is trek Werner, Ariël teen hom vas, en smeek hy haar, “Kom saam met my”.

Haar antwoord is eerlik, “Ek het jou lief, hier vandag, maar wat jy vra kan ek nie, terug daar na onder, en die mense, dit wil ek nie”.

Hulle bly deur die nag bymekaar, hande ineengestrengel met ’n liefde wat te groot is vir albei, en die dag kry hulle daar, Ariël met haar kop teen sy bors en hy met sy arms beskermend om haar, en dan is dit verby, is die afskeid daar, en Ariël voel hoe die noodlot haar weer ’n keer ’n streep trek, en sy treur.

Die weke wat volg op die berg is pynlik, hulle voel of hulle een van hul eie verloor het, maar stadig versoen Ariël haarself met die verlies, en so ook die ander, en na ses weke keer alles terug na normaal, en besluit Ariël om berg op te gaan en Werner se laaste besittings uit die vliegtuig te gaan haal, enigiets, net solank sy ’n deel van hom by haar sal hê.

Sy neem voorraad vir ’n week, sy soek na stilte, alleen wees, en al breek dit haar hart om Zoe agter te laat, weet sy, sy moet net eers weg, net eers vrede met haarself gaan maak.

Vir Werner is dit ’n oorweldigende tyd, is hy voorblad nuus in elke koerant, is die wêreld verstom dat hy leef, en is hy in wanhoop na haar wat hy liefhet.

Die mediese ondersoeke, die vertel van sy herstel, en eindelaaste die vertel van die wonderlike mense daar aan die begin van die hemel, van Ariël en van Zoe, en dit weet Werner binne ’n paar dae was die grootste fout, wanneer die polisie hom besoek saam met dokter Gabriel Hoffner.

Die wete dat hy haar verraai het maak hom gek, die besef dat hulle haar gaan aan kla vir ontvoering van Zoe, bring woede teenoor hulle in hom, maar hy is hulpeloos daarteen.

Wanneer Ariël terug kom met Werner se besittings, wag hulle vir haar, is Zoe reeds weggevat, en is haar gesin verstom, “Jammer Ariël, maar jy moet saam ondertoe, jy is in hegtenis vir die ontvoering van Zoe Deitz”.

Sy pak haar klere, neem haar rugsak op, skielik is daar geen rede om te stry nie, geen rede om vry te wees nie, nie sonder Zoe en Werner nie, en sy voel geen verwyt teenoor hom nie, die verwyt is hare, sy is die een wat in ’n leuen teenoor hom geleef het, hy is onskuldig.

Sodra sy reg is om te gaan, gee sy ’n lêer aan Piet, “Wag tot julle kleinding gebore is, en kry dan hierdie lêer by Werner, vra hy moet Gabriel aan die man bring, hy moet oopvlek wat Gabriel doen met die brosbeen kinders in sy eksperimente, hy moet hom vir my stuit”, en Piet Krynauw sweer dat hy dit sal doen.

Vir Werner is dit die swartste tyd in sy lewe, is sy verwyt te veel, smeek hy om haar te sien, maar sy sê nee, nie nou nie, eendag as alles verby is miskien, en hy voel om te sterf.

Die verhoor is kort, Ariël erken skuld, maar sy swyg, want om Gabriel Hoffner in hierdie hof te probeer skuldig kry, sal alles vir Werner bederf. Sy kry sewe jaar met die moontlikheid van parool na drie jaar, en sy aanvaar dit so.

Ariël word toegewys aan die gevangenis hospitaal, en sonder enige ophaal of verwyt verdiep sy haar in haar werk. Werk sy dag en nag, en probeer sy die gesig van Werner vergeet. Weet sy hoekom sy hom nie wou sien nie, weet sy dat sy skaam is oor haar optrede, wil sy nie die teleurstelling in sy oë sien nie, en versoen sy haar met die tyd wat sy hier sal wees.

Wanneer Piet uiteindelik na twee maande by Werner se huis se deur staan, snik Werner sy hart teen hierdie groot man van die berge se bors uit, is hulle soos broers in hulle leed. Hy luister met afgryse, kyk na die foto’s met vrees in sy hart vir Zoe, weet hy dat hy baie versigtig moet wees, weet hy dat Gabriel Hoffner ’n monster is.

Hy gaan onmiddellik hospitaal toe en eis om Zoe te sien, Gabriel wil eers weier en dan wanneer Werner eis om ’n rede, laat hy hom in. Werner voel die skok in hom wanneer hy Zoe sien, albei beentjies en een armpie in gips, hy stort amper ineen as hy haar trane sien, haar hartseer gehuil hoor, en hy weet, al kos dit hom sy hele fortuin, sy lewe, hy sal Gabriel Hoffner uitwis.

Hy kry ’n regspan, huur speurders, en oor ’n sewe dae periode sit die span hulle planne in werking om Gabriel Hoffner tot stilstand te bring.

Dit neem die span vier maande om alles in te win om die brosbeen eenheid te sluit, en Gabriel Hoffner van moord en ‘wanpraktyk’ aan te kla. Hul saak is te sterk vir enige iets wat Gabriel kan aanvoer, en tien maande nadat Ariël met haar gevangenis straf begin het, word Gabriel Hoffner veertig jaar tronk toe gestuur, en dan kom daar rus. Gaan sien Piet vir Ariël, huil sy haar verligting uit wanneer sy hoor dat Gabriel Hoffner se dade oop is, dat hy nooit weer naby kinders toegelaat sal word nie, en maak sy haar reëlings met hom, vir daardie dag wanneer sy uitkom.

Werner gaan onverpoosd voort met sy ‘regmaak’ vir wat hy weet hy ook skuld aan het. Hy en sy span begin met vertoë om Ariël se tronkstraf tersyde gestel te kry, ook om Zoe aangeneem te kry, en dan die skok, Zoe is ’n kindjie van ’n Britse vrou wat haar versaak het, en nou met al die aandag hof toe gegaan het om haar terug te kry.

Werner laat alles staan, neem sy regspan en vlieg Brittanje toe om die saak te beveg.

Agttien maande nadat Ariël deur die tronk deure gestap het, is sy skielik vry, word sy binne twaalf ure nadat sy ingeroep is, vrygelaat, en staan sy in die winterkoue voor die grou tronk mure, vry, maar vry vir wat, flits dit deur haar gedagtes wanneer sy in die rigting van die stad begin stap.

Sy gaan na die adres wat Piet haar tien maande gelede gegee het, wanneer sy aanklop word die deur dadelik oopgemaak, en staan sy en matrone Marty Du Rand voor mekaar, en dan val die twee vroue mekaar om die hals, en stort hulle, hulle trane oor wat soveel jare opgekrop was, beleef hulle saam die maande in die hospitaal toe hulle Zoe se mishandeling onder Gabriel Hoffner moes gade slaan, beleef hulle die dag toe Ariël besluit het om Zoe te neem en te verdwyn, en hulle weet, al die hartseer was dit werd, en hulle vind vrede, want die kinders is nou vry.

Sy bly daar vir die nag, wik en weeg oor Werner, maar dan vier-uur die volgende oggend klim sy in die 4x4 bakkie wat Piet tien maande gelede daar gelaat het, en gaan sy terug na die voet van die hemel, om in vergetelheid in te verdwyn, soos daar vier jaar gelede.

Vreet die gedagte aan Zoe haar op, maar sy weet sy moet dit laat, dit was duidelik van die hof, indien sy ooit weer naby Zoe kom, sal sy terug gevangenis toe, en dit kan sy nie haar mense aan doen nie. Al wat sy kan doen is om te bid dat Werner reg sal laat geskied aan daardie klein wonder kindjie indien hy kan.

Dit is in die lente wanneer sy haar rugsak op haar rug sit en in die paar sentimeter diepe sneeu teen die berg begin opklim, sy weet die Here was haar genadig, die regte tyd om sorgvry te klim, en sy geniet die klim op teen die tien duisend voet hoë berg uit.

Twee dae later wanneer sy oor die laaste kranse gaan, en die rook van die vuur sien, weet sy, sy is tuis. Sy gaan sit op die ligte sneeu vir ’n paar minute, huil haar huil, kry haarself by mekaar, staan op en stap stil terug in die lewe van vergetelheid in.

Wanneer die deur oopgaan, kyk almal om, en die vreugde en verbasing hou hulle een oomblik in hul stoele, dan bars pandemonium los, is dit ’n gehuil en ’n gelag deurmekaar, Ariël is terug, hulle rede vir leef is terug, en die mense aan die voet van die hemel kom tot rus, en al wat oorbly is die gebede vir Zoe, en dit doen hulle.

Ariël besluit na ’n paar dae om bergop te gaan, en hulle gun haar dit. Hulle weet sy het tyd met haarself in haar berg nodig, tyd om te onthou van hom wat sy lief gekry het.

Sy pak haar rugsak en sy gaan, wanneer sy buite is, weet sy, sy wil weer sy vliegtuig gaan sien, gaan sit daar in die kajuit waar hy gesit het, gaan vat aan die instrumente wat hy aan gevat het, en sy durf die loodregte berg muur aan met ’n geesdrif wat sy vir lank nie gevoel het nie.

Sy klim sonder stop, sonder vermoeienis, en wanneer sy uiteindelik deur die stukkende venster in die kajuit klim, kom sy tot rus. Sluit sy haar oë, en terwyl die trane oor haar wange loop neem sy ’n besluit, sy sal weer afgaan, sy sal hom vra om haar lief te hê, haar te help om Zoe te kry, want anders is daar geen vreugde oor in haar lewe nie.

Sy kamp onder die oorhang van die hange, oes kruie deur die dag, en lê snags in haar tent onder die helder sterre, en sy droom en sy onthou.

Dit is vier dae nadat Ariël bergop is dat die bergklim span die kruin bereik en die welkome rook uit die skoorsteen sien.

Dit is wanneer hulle oor die werf kom, dat Gabriel Kluster uit die kruie stoor loop, hy staan een oomblik verwonderd, en dan kry hy lewe wanneer hy die klein figuurtjie in die arms van die man sien.

“Zoe, oupa se Zoe, jy is terug”.

Werner trek die balaklawa van sy gesig af, en dan ook die van klein Zoe, en dan hoor die res van die gesin die gelag en gehuil, en storm hulle die huis uit.

Die weersiens is emosioneel en vreugdevol, Zoe word van hand na hand aangegee, geliefkoos, gesoen, en die trane loop vrylik.

“Ek het ons kind terug berge toe gebring, hier waar haar hart is, haar lewe is”.

Sy oë soek na haar, Ariël, en sy hart breek wanneer hy besef sy is nie daar nie.

"Sy is bergop, na jou vliegtuig toe dink ons,’ en die hoop is in sy hart dat sy na hom verlang, soos hy na haar.

In die hitte van die huis, word daar kos ingeskep, koffie gemaak, gesels en gerus.

Werner vertel van die hofsaak teen Gabriel Hoffner, van die hofsaak in Engeland om Zoe, van die span klimmers wat hy gehuur het, van sy verlange na die berg, na die mense, na Ariël, en hulle is dankbaar.

“Twee van die span is Ingenieurs, ek wil ’n kabel spoor hier bou vir ons. As Ariël my lief kan kry, wil ek gereeld kom, maar ek sal nie elke keer kan klim nie. So sal julle daaroor dink en met die Ingenieurs gesels asseblief. Dit sal ’n private kabelspoor wees, net vir ons, nie vir toeriste nie”.

Hulle lag vir hom, “Ons is nie kluisenaars nie Werner, so ’n besoeker of wat nou en dan doen ons die wêreld se goed”, en hy lag en die vreugde is in hom.

“Piet kan jou more bergop vat, dan kan julle daar bo bly en hy kan terug kom, vat julle tyd, sorteer dinge uit, en dan kom julle af, en ons sal inval met julle besluite”.

Dit is kort na drie in die volgende middag wanneer Piet Werner oor die hang trek.

“Hier is ons”, en dan draai hy om en wys in die rigting van die blou tentjie honderd meter verder, “Daar is jou hart, en jou vliegtuig, indien sy nie by die tent is nie, wag net, sy oes een teen tien kruie”.

“Kom jy nie saam nie”.

“Nee, ek speel nie derde mannetjie nie, en ek glo julle eerste weersiens moet net tussen julle wees”.

Piet stoot Werner gemaak speels in die rigting van die tent, dan vat hy die tou en begin hy behendig teen die tou afgly.

Werner voel die vrees in hom, wat as sy hom nie kan vergewe vir dit wat haar oorgekom het nie, vir dit wat hy laat gebeur het. Hy weet dan sal hy teruggaan, maar sy sal haar Zoe hê, dit was sy belofte en dit het hy volbring.

Die tent is leeg, maar hy gaan sit tussen haar goed, ruik haar parfuum in die tent, druk haar klere teen sy gesig en adem haar in, dan gaan lê hy op haar slaapsak en verval in ’n rustige slaap.

Dit is wanneer Ariël om die tent kom, dat sy hom sien, en vir een oomblik kan sy dit nie glo nie, wil haar verstand nie met haar hart saam stem nie, dit kan nie wees nie, hoe sou hy hier gekom het.

Dan is sy op haar knieë langs hom, ‘as hy hier is, is dit ’n teken dat hy iets moet voel, enige iets’.

Hy voel haar nabyheid, en wanneer hy sy oë oopmaak, is sy daar, en steek hy sy hande uit en sy vat hulle vas en trek hy haar bo-op hom vas.

“Wat doen jy hier”, kom dit in ’n baie klein stemmetjie.

“Ek het my hart kom soek wat ek verloor het”, en die vreugde en afwagting is in sy stem.

Dan bars Ariël in trane uit, en druk sy haar gesig teen sy breë bors, en hy soen haar, vryf haar rug, vat aan haar hare, vat aan haar soos hy gedroom het hierdie afgelope twee jaar, en sy hou hom vas, en hy is tevrede, sy lewe kan nou aangaan.

Hulle bly nog drie dae daar in die vergetelheid, verstrengel in hul liefde, verstrengel in mekaar se heerlikheid, leer die intiemheid van mekaar ken, en beleef die volmaaktheid van daardie intiemheid.

Dan is hulle haastig, haastig na hulle Zoe toe, na hulle mense toe. Die besluit oor hoe hulle die toekoms gaan hanteer eers daar gelaat, nou eers net geluk, net liefde.