Geskryf in Mei 1997 / Ongeveer 35 minute leestyd (6 880 woorde)
Hy staan laatnag in die deur van haar kantoor, blousel blou oë, regop blonde stokkies hare, en die stempel van die jeug op sy bruingebrande gesig.
Sy stem is verskonend, skaam, “Ekskuus om te pla, ek is op soek na professor Checkzkova”, en daar kom ’n vlietende rooiheid oor sy gesig, “Jou soektog is op ’n einde, jy het haar gevind”.
Sy sien die verbasing en die verleentheid op die pragtige gesig, en in haar binneste glimlag sy, maar sy los hom, help hom nie uit sy verleentheid nie.
“Professor Zeiss het my gestuur”, en hy hou ’n koevert na haar uit.
Terwyl sy die kantoor instap, wink sy hom saam. Sy neem die koevert, skeur dit oop, en lees die inhoud sonder om na hom te kyk. Wanneer sy opkyk, weet sy, hierdie jongman is na aan Carl Zeiss se hart. Sy weet, sy sal help, al beteken dit dat sy nog agt van haar skaars vry ure weekliks sal moet opoffer. Sy weet net dat daar niks is wat sy nie vir Carl Zeiss sal doen nie.
Sy vra dit om ’n beginpunt te kry, “Hoe lyk jou semester punt?”
Hy hou die bekende blou brief uit na haar, en wanneer sy na die hopelose rekord kyk, sê hy sag, verskonend, “Nie te goed nie, dink ek”, en sy wil lag oor sy onder estimasie van die situasie, maar sy skud net haar kop, en sê op dieselfde toonhoogte as hy, “Glad nie goed nie”.
Sy haal haar rooster uit die plastiekhouer voor in haar dagboek, en skuif dit oor die lessenaar na hom, “Reserveer vir jou agt ure op my rooster, en sorg dat jy dit voor môre aand twaalfuur in my hand gee, anders kan jy ’n ander leermeester soek”.
Hy kyk een oomblik na die rooster, en dan bekommerd terug na haar, “Hier is nie veel tyd oop in die dag nie”.
“Wat doen jy tussen twaalf en twee in die nag”, vra sy aspris ongeërg.
Hy is uit die veld geslaan, en met die rooi wat verhoog op die wange, sê hy verleë, “Ek slaap natuurlik, Professor”.
“Wel meneer die student, sukses vra opofferings, en wanneer dit nou bietjie slaaptyd is, wat sal ons maak”.
Dit is asof hy besef, dít is dit, en hy groet verleë en draai om, net om weer terug te draai.
“Waar sal ek Professor môre kry?”
Sy voel haar oë lag in syne, “Jy het my rooster, en indien jy ’n ware student is, sal jy weet waar ek is”.
Hy lag skaam, en met 'n, “Baie dankie, en nag Professor”, is hy uit die kantoor en weg.
Die oomblik wanneer hy weg is, voel die kantoor koud en leeg, en wanneer sy op haar horlosie kyk, besef sy dat dit kwart oor elf in die nag is, en verdwyn haar lus om aan te hou werk.
Sy vat haar tas, trek die deur toe, en stap deur die stil gange van die administrasie blok wat in skemerte gehul is.
Sy is nie verbaas om Carl Zeiss by die hospitaal ingang te sien nie, hulle werk tog seker elke aand dieselfde ure, altyd tot so twaalf-, eenuur se koers, wat het hulle twee dan ook behalwe hulle werk om hulle besig te hou?
“Hallo Tamar”.
“Hallo Professor”.
“Ek sien klein Böhmer was by jou”.
Onder die ongeërgdheid hoor sy die angstigheid, en maak dit ’n indruk op haar, “Ja, hy was daar”.
“En”, vra hy met erns in sy oë.
“En”, skerts sy, en wanneer sy die spanning op sy gesig sien, “Ek sal hom help”.
Die vreugde is onmiddellik op sy gesig, en met blydskap in sy stem sê hy, “Wel Professor, siende dat ons albei vroeg klaar is vanaand, kan ek u seker op ’n koppie koffie in die kafeteria trakteer”.
Sy weet hy wil verduidelik wat sy verbintenis is met daardie blou oog jongman wie se naam Bertholdt Böhmer is.
Met ’n pot koffie, en twee koppies geskink tussen hulle, sien sy die hartseer in sy oë, en sy weet, vanaand sal sy ’n stukkie van sy lewe se seer beleef, soos hy so baie van haar lewe se seer moes beleef.
Sonder waarskuwing begin hy praat, “Dit is vanjaar presies vyf en dertig jaar gelede, dit was ’n jaar na ons, ek en my tweeling suster, geïmmigreer het. Sy was verlief en het op troue gestaan met die man wat vir haar die enigste in haar lewe sou wees, Arendt Böhmer, oudste seun van ou Arendt Böhmer, ‘koning’ van die Franschhoek kontrei, kampioen wynmaker”.
Sy sien die hartseer in sy oë, en hy gaan met ’n duidelike tamheid in sy stem voort, “Ek wou hê dat sy gelukkig moes wees, sy wat as weeskind net hartseer geken het”.
Hy dink een oomblik en gaan voort, “Na twee jaar van ongekende geluk was daar net een iets kort in hulle lewe, ‘kinders’, die seuns en dogters wat hul geluk sou verseël, hul voortbestaan sou verseker. Daar was geen fout by haar nie, so die fout was by hom, maar dit kon sy nie oor haar hart kry om vir hom te sê nie”.
Hy wag daardie oomblik wat dit vat om die hartseer te verwerk, “Toe besluit sy en die jong Bertholdt Böhmer, tweede seun van ou Arendt, om na my te kom, sodat ek haar kunsmatig met Bertholdt se saad sal bevrug. Hulle wou vir Arendt gee dit wat hulle wat hom liefhet, hom gun, ’n kind”.
Die erkenning kom met die effense knak van sy skouers, “Ek het dit gedoen, wie sou ooit weet, en nege maande later is ’n seun gebore, ’n Arendt Böhmer. Hul geluk het geen perke geken nie, en sy was tevrede met haar een seun, maar hy wou nog een seun hê, ’n Bertholdt vir sy broer, die een wat nie wou trou nie, want die vrou wat hy wou hê, het behoort aan die broer vir wie hy sy lewe sou gee”.
Die sluit van sy oë, wys die hartseer van die herinneringe, "Hulle het weer gekom, tien jaar na Arendt, en ek het dit weer gedoen, ek moes, dit was vir hul al drie se geluk. Sy was swanger en ons het geweet dit sal ’n Bertholdt wees. Toe word Arendt siek, en al wat die dokters hom met sekerheid kon sê, was, “Jy is steriel, was jou hele lewe van geboorte af steriel, en geen kind sou jy ooit verwek het nie”.
Nou is die pyn op die ou gesig ook vir Tamar te veel, en sy sit haar hand sag op sy arm, en sy stem is vermoeid tot die dood toe, “Hy het stilgebly tot die dag wat die klein Bertholdt gebore is. Daardie dag het hy haar van die plaas verdryf, en het hy die seuns wat sy vir ‘hom’, gebaar het, gehou. Sy en Bertholdt is binne enkele maande na mekaar na die buiteland, hul het hul gevestig in Frankryk waar albei vandag nog as mediese dokters in die dorp Francechai werk”.
Hy sien die vraag in haar oë, “Ja, hulle is getroud, vyf jaar gelede. Dit het hulle ’n baie lang tyd geneem om te besef, wat verby is, is verby, maar vir Berthold kon sy nog gelukkig maak, en sy doen dit elke dag”.
Die storie bly by haar deur die nag, deur die volgende dag se lesings, en deur die operasies, tot hier waar sy tot die dood toe uitgeput staan in die teater gang, met hom daar plat op sy agterstewe teen die muur.
Hy sien haar dadelik, en kyk op sy horlosie, ‘vyf voor twaalf’, en sy skaam haar oor haar ongenaakbaarheid van die vorige aand.
Sy gesig verander in ’n glimlag, “Ek het dit gemaak, professor sal maar moet help”, en hy hou die rooster na haar uit, maar sy ignoreer dit, skielik is sy lus om hom ’n rukkie langer by haar te hou, om te gesels met iemand wat in soveel liefde gegee is.
Sy wink hom met haar kop saam, “Kom, verduidelik my nuwe rooster oor ’n koppie koffie aan my”, en sy sien sy verbasing, maar sy stap asof onaangeraak verby hom na die kafeteria.
Lisa agter die toonbank ken hom, en die bewondering is in haar oë, “Vader professor, waar kry jy hom, Bertholdt Böhmer, rugby held, provinsiale senter en aspirant Springbok”, en die draai van haar oë, sê alles, en skielik weet sy waar die swak semester punt moontlik vandaan kom.
Hy is effens skaam oor die aandag, en sy besef dat Lisa se attensies vir hom alles behalwe lekker is, sy besef dat hy vreemd vir vroue is, en kry sy hom so jammer, dat sy hom teen haar hart wil druk.
Die rooster pas haar, en tot haar vermaak, sien sy, behalwe vir Donderdae wanneer hulle ’n uur voor sy rugby oefening, en weer ’n uur na sy rugby oefening sal studeer, alles laataand ure is.
Hy klink soos hy lyk, verleë, “Ek verdien om op te offer, maar wat van u, hoe sal ek u ooit kan vergoed?”
“Leer hard, doen goed, en word ’n goeie dokter, dit sal genoeg wees”, en daarmee is dit afgehandel, en al wat oorbly is die plek. Haar huis besluit sy, sy wat nog nooit niemand na haar huis genooi het nie, en sy weet nie waarom sy dit doen nie.
So begin die saamwees van haar en Bertholdt Böhmer. Eers die vasstel van wat hy ken, van wat hy kort, en hoe hulle dit sal aanvul, en word die ure van hulle saamwees vir haar iets waarna sy uitsien deur elke dag.
Begin sy hom soek tussen die studente, lees sy die koerant op soek na sy naam, en kyk sy, sy wedstryde op die televisie. Aan die einde van Mei, twee maande na die begin van hulle studie, weet sy dat hierdie Bertholdt Böhmer haar dae vul met vreugde. Weet sy dat hierdie student, tien jaar jonger as sy, in haar hart ingekruip het, en weet sy dat sy nie by magte is om iets daaraan te doen nie.
Hy vang haar uit dat sy nie eet nie, en hy begin om vir haar elke aand ’n toebroodjie te maak. So ongemerk begin die klein ‘gunsies’, ’n warm koppie koffie, ’n ingevoerde lekkerny, ’n terloopse raakloop op kampus, en hulle weet, daar is iets meer as professor en student, tussen hulle.
Die tweede week in Junie vra hy, sonder om in haar oë te kyk, “Kom saam na die rugby oefening, dit sal ons ekstra tyd gee om te studeer”, en hulle albei weet dat die studeer sekondêr is aan hierdie vreugde wat hulle samesyn bring. Om haar gewete te stil probeer sy rede voer, “Hoe sal die saamgaan rugby toe, bydra tot die studies, jy gaan op die veld wees?”
Hy is reg met ’n antwoord, en sy weet daar het baie ‘dink’, in hierdie vraag in gegaan, “Professor kan my vrae vra terwyl ons ry”, kom dit vinnig, en sy stem in, want hulle tyd is so kort, die volgende semester eksamen is in Augustus en dan is alles moontlik verby.
Hy dra haar op sy hande, dra haar behoorlik die motor, en die losie in, en sy word in twee weke ’n geëerde gas by die stadion.
Sy sien die groot man opkyk na die losie, en dan doelgerig in haar rigting aankom. Sy ruk verbouereerd haar tas oop, en pluk ’n paar boeke uit, te skaam dat hy moet weet dat sy niks doen behalwe vir Bertholdt Böhmer sit en dophou nie.
Hy kyk haar in die oë, “Dit wou ek sien, die bron van die wonderwerk”, en sy sê nie ’n woord nie, kan nie, want dit sal haar verraai.
“Wie is jy nou regtig”, en sy voel een oomblik die benoudheid in haar, “Ek help hom sy semester punt verbeter”, sê sy, en dit klink belaglik in haar ore.
“So sê hy ook, maar kan ek vir jou sê wie jy is”, en sy weier om te praat, maar hy gaan voort, “Jy is die een wat daardie groot seun van my se hart gesteel het”.
Hy skud sy kop stadig heen en weer, “Jy weet natuurlik, jy kan nie een enkele wedstryd misloop nie, jy is sy inspirasie, alles wat hy doen, doen hy vir jou”.
Sy weier steeds om te antwoord, en hy glimlag soos iemand wat ’n oorwinning behaal het, en sy weet hy het, “Ek gee hom jou kaartjie vir Saterdag se wedstryd, kom sit onder by my in die afrigterslosie”, en hy draai om, om te loop, maar draai weer terug, “Terloops, ek is Cor Meyer, die afrigter, professor met die vreeslike van”.
Hy los haar met ’n hart wat in haar keel klop, kan dit waar wees, kan Bertholdt Böhmer ooit iets vir haar voel? Sy tien jaar sy senior, sy wat verby haar jeug was, voordat sy ’n tiener was, en sy voel iets wat sy nie ken nie.
Met die terugry na haar huis, weet hulle albei, iets het verander, weet hulle albei dat hulle die tyd wat besig is om uit te loop, vrees.
Sy sien sy verlorenheid in sy kop wat op sy hande lê by die kombuistafel. Sy los die koppies op die blad by die ketel, en loop oor die lengte van die kamer na hom toe, die wete is in haar, sy kan nie so aangaan nie.
Sy sit haar hande op sy skouers en begin dit saggies masseer. Sy voel hom verstyf onder haar aanraking, en sy laat sak haar kop tot teen syne, “Is dit uiters oneties van die professor, indien sy doen wat ek nou doen”, vra sy terwyl sy vrees dat hy sal vlug.
Hy vlug nie, hy neem haar hande in sy groot hande vas, draai om in die stoel, en dan is sy in sy arms, en hou hulle mekaar vas, met ’n sekerheid in hulle harte, dat dit wat so stadig gegroei het, ’n liefde is wat vir ewig sal hou.
“Tamar, ek het jou so lief, ek kan nie een enkele dag aangaan sonder om dit vir jou te sê, of om jou vas te hou nie”, en in haar sing dit, maar sy vrees die werklikheid.
“Bertholdt, weet jy wat dit vir jou inhou, ek is tien jaar ouer as jy, ek het nie meer die jeug aan my kant nie”, maar hy maak haar beslis stil.
“Ek het jou lief, moet my nie wegstuur nie, want ek kan dit nie help nie, dit is net daar, was van die eerste oomblik af daar, en dit gaan nooit weer weggaan nie”, en sy hou hom by haar, want sy kan hom nie wegstuur sonder om haarself te vernietig nie.
Soos die dae, weke word, kry sy hom lief totdat sy nie haar dae sonder hom wil begin of eindig nie. Hulle samesyn word ’n rustigheid soos twee helftes wat mekaar vind, en een word. Hulle studeer, maar dit is in mekaar se omhelsing voor die kaggel. Sy studies floreer, sy rugby floreer, en hulle liefde floreer, en groei totdat daar byna geen plek oor is vir iets anders nie, en haar hartseer van al die kinderdae in ’n koue kommunistiese land, verdwyn, en word vervang met ’n liefde so skoon en so bevredigend.
In Julie word hy gekies vir die Springbokspan, en is die afskeid onafwendbaar. Sonder om hom te sê, kry sy haar paspoort in orde, en vra sy professor Zeiss om haar verlof toe te staan vir die laaste twee weke van die toer.
Een week nadat hul weg is, lui die foon, dit is Cor, nou Springbok afrigter, “Ons seun is siek, kom red wat te redde is”, pleit hy angstig.
Haar aankoms by die hotel is laatnag, “Almal is uit na ’n onthaal, behalwe die siek speler in kamer 1406”, sê die ontvangs dame. Sy gee haar besonderhede, en die ontvangsdame maak ’n nota oop wat in die register lê, kyk daarna, en gee haar ’n toegangskaart, terwyl sy die kamer nommer herhaal, “1406, Professor”.
Haar hart klop in haar keel wanneer sy die deur van 1406 oopstoot, sê nou iemand anders het intussen siek geword, maar dit is sy dierbare stokkies kuif wat bo die kombers uitsteek. Sy soen hom op die voorkop en wanneer sy oë in hare kyk, is die vreugde daar. Hulle lê in mekaar se arms totdat die hartseer van die skeiding vervang word met ’n heerlike warm samesyn.
“Trou met my”, vra hy nederig, en sy sê ja, want wat anders is daar vir haar behalwe om hom lief te hê en hom gelukkig te maak.
Die toer word sy triomf, en terwyl hy almal se held word, reël sy dat hulle in die huwelik bevestig sal word in die Ambassade die week na afloop van die toer. Sy bel Carl Zeiss, en hy verseker haar dat hy daar sal wees, en indien Bertholdt wil, ook sy eie ma en pa.
Die dae voor die troue is hulle in Francechai en vind ma en seun mekaar, en wis hulle ’n leeftyd se hartseer en onreg uit, en staan twee Bertholdt’s teenoor mekaar, en weet hulle dat ’n liefde groter as die wêreld hulle saambind.
Hulle troudag is die begin van al die wonderlike dae in haar lewe. Die tuiskoms is gevul met geluk. Hy hardloop tussen klasse om haar te kom liefkoos, hy soek haar oë op oor die lengte van kamers, en wanneer hy hulle vind, gloei dit in haar.
Dan, vroeg September staan hy voor haar, Arendt Böhmer, blousel blou oë, met minder stokkies hare, en met ’n woede op sy manlike gesig wat haar vir een oomblik laat verstil van skok.
“Wie de duiwel dink jy, is jy!” spoeg hy dit uit, en sy sien die pyn en die hartseer op sy gesig. “Jy wat my broer soos ’n skelm in die nag van ons weggesteel het, dink jy, jy kan daarmee wegkom?”
Steeds sien sy net die hartseer, en haar hart bloei vir hom, “Ek het hom nie gesteel nie, ek het hom liefgekry, en hy vir my”. Sy sien die hartseer, “Is dit vir jou so vreemd dat iemand so ’n wonderlike mens, wat soveel liefde soos hy het, kan liefkry”.
Sy sien die pyn, “Jy sal niks van ons kry nie”, en sy knip sy sin kort, “Ek wil niks verder van julle hê nie, Bertholdt is al wat ek in my lewe vra, en hom het ek gekry sonder dat julle toestemming moes gee”.
“Indien jy dink, dat ek julle geluk sal sê, kan jy dit vergeet”, kom dit woedend.
“As dit nie opreg bedoel is nie, wil ons dit nie hê nie, maar vir jou, wens ek al die geluk toe wat ek kan, en hoop ek, dat jy ’n liefde sal vind so diep en eg soos ons liefde”.
Vir een enkele oomblik is hy totaal ontsenu, en dan soos hy gekom het, sonder woord of waarskuwing, is hy weg, maar in haar bly sy beeld en sy hartseer vassteek, soos ’n skaduwee wat altyd terugkom.
Die aand gee sy vir Bertholdt ’n kaartjie met ’n boodskap van haar, sodat hy sal weet dat hy niks hoef te verduidelik nie, dat sy verstaan. So begin sy om hom weekliks ’n boodskap van haar liefde saam te gee klas toe, want sy wil hê dat hy moet weet dat sy hom ewig liefhet.
Vroeg in Desember is dit duidelik, sy is swanger, en gaan hulle verhouding ’n innigheid in, wat net die wete van ’n kindjie kan bring.
In die laat winter word daar vir hulle twee dogtertjies gebore, en hulle noem hulle Tamar en Elza, na haar, en sy moeder, en hulle is gelukkig, hulle beker loop oor.
Die verwydering tussen hom, sy vader, en Arendt, duur voort, en word ’n kloof. Al hul pleidooie dat hy moet kom kuier, val op dowe ore, maar op sy 26ste verjaarsdag bel die prokureur, hy moet kom teken vir die grond wat sy ma en Bertholdt vir hom gelaat het.
Na die kleintjies se eerste verjaarsdag vertrek hy plaas toe. Die afskeid is pynlik, en hulle hartseer skeur hulle harte, maar vir sy moeder en vader se onthalwe moet hy gaan.
Wanneer Carl Zeiss ’n week later deur haar teater deur stap, weet sy daar is iets vreesliks verkeerd. Sy wys die assistent om voort te gaan, en in die koue van die voor-operasie kamer sê hy haar, “Daar was ’n ongeluk, die trekker het op Bertholdt geval, hy is kritiek in die Grootte Schuur hospitaal, hy vra na jou”.
Van die vlug en die rit, onthou sy niks, iets in haar het gaan stilstaan, sy was besig om iets te verloor wat haar lewe gevul het, en sy kon dit nie alleen dra nie. Dat hy net vir haar gewag het, is seker, van sy blousel blou oë, tot by sy bene is die tekens van die dood, maar hy glimlag, en die vreugde is in sy oë, “Dankie vir jou liefde”, sê hy, “Dit het my gevul met alles wat ’n man kan begeer”, en dan pleit hy by haar, “Maak my broer gelukkig, soos wat jy my gelukkig gemaak het”.
Wanneer sy deur die glas venster kyk, staan hulle daar, die twee Arendt’s, die een so gebroke soos die ander, en sy beloof sonder om te dink, “As ek ooit kan, sal ek”.
Wanneer hy sterf, sterf iets in haar, en word haar dag, nag. Sy sak op die grond neer en sy huil oor hom en hulle liefde, sy huil oor al die verliese in haar lewe, en sy huil oor daardie twee Arendt’s wat nou verloor het dit wat nooit hulle ‘eiendom’, was nie, maar ewig aan ’n ander behoort het.
Professor Carl en die predikant neem haar weg, en hulle smeek onbeskaamd, “Laat hom hier ter ruste lê, hier op sy geboorte grond”, en sy voel die weiering in haar, maar sy weet dat dit so moet wees, ook vir sy ma en pa se onthalwe.
Dit is ’n lieflike dag wanneer hulle hom in die rooigrond bêre, en in haar sterf meer as wat ooit lewend in haar was, en daar word iets nuuts gebore. Oor die lengte van die graf kyk sy in Arendt Böhmer se oë, weg is die haat en woede van daardie dag so lank gelede, al wat oorgebly het, is die pyn en die hartseer, en haar hart gaan uit na hom, hierdie ouboet wat Bertholdt so lief gehad het.
Sy loop pad-langs dorp se kant toe, sy kan nie langer langs die graf bly nie, sy kan nie langer in die hartseer blousel blou oë kyk nie, sy kan nie langer help begrawe dit wat haar hele lewe is nie.
Carl Zeiss, haal haar in, en keer haar, “Gaan jy nie op na die huis toe nie”, vra hy met trane in sy oë.
Haar “Nee”, dra al die seer wat sy op die oomblik vir haarself en daardie twee Arendt’s voel, en hulle ry die pad in stilte, en sy weet hulle twee is albei stukkend, tot daar waar hulle amper nooit weer heel kan wees nie.
“Die prokureur wil jou sien oor Bertholdt se testament”, sê Carl Zeiss vir haar.
“Ek stel nie belang in hulle goed nie”.
Sy stem dra die klank van die spanning in hom, “Alles is nie hulle goed nie, onthou daar is ook besittings van hom in jou huis, wees versigtig voordat jy net alles afmaak”, maar sy laat dit gaan, hy was al wat sy ooit wou hê, geen besittings nie.
Donker die volgende oggend neem sy die huur motor en ry sy na Bertholdt se graf. Sy wil vir oulaas alleen met hom wees, vir oulaas saam met hom haar hart uithuil.
Die son se strale kry haar langs die graf, in sak en as, ‘hoe sal sy kan voortgaan sonder sy liefde’, en die dood is in haar.
Die geknars van skoene op klip, klink hard hier in die stilte, en sonder om op te kyk weet sy, dat dit Arendt is.
Sy staan op, draai sonder ’n woord weg van hom, en stap na die motor. Hy haal haar in, en vat haar stewig aan die arm, en wanneer sy opkyk, lê die seer in sy oë, “Ek is so jammer, die Here weet, indien ek hom kon terug gee vir jou, sou ek”, en sy weet dit is die waarheid.
Die trane op sy gesig ontstel haar, en hy sien dit, “Ek het nie sy klere wat hy gebring het gepak nie, wil jy dit kom kry?”
Sy skud net haar kop, “Wat in jou huis is van hom, kan jy neem, ek gee dit aan jou, hou dit en vind troos”, en sy klim in die motor, en sonder om, om te kyk, ry sy weg.
Die prokureur is moedeloos, “Weet jy wat jy afteken professor, miljoene rande se grond”.
Sy hoor die ontsteltenis, maar dit raak haar nie, “Ek glo u meneer, maar ek wil dit nie hê nie, ek gee dit met liefde aan Arendt Böhmer”.
Sy stem dra sy ontsteltenis, “Die hele transaksie sal natuurlik eers oor ’n jaar afgehandel kan word, want dit is wat Bertholdt in sy testament bepaal het”.
Sy knik haar kop, “Dit maak nie saak nie, ek is klaar daarmee, vir my is dit verby”, en sy staan op en sy gaan huis toe, na haar kinders, en die eensaamheid toe.
Haar dae is gevul met rou, net die twee paar blousel blou ogies in die kinderkamer keer dat sy nie in ’n bodemlose put van depressiwiteit verval nie.
Dae word weke en weke maande, en sy is weer net professor Checkzkova, sy gee klas, sy opereer, en sy gaan huis toe, na haar kinders toe, en haar lewe is leeg. Sy weet dat Arendt verskeie kere probeer het om met haar te praat, maar sy wil nie, hy het nie vrede nie, en ook nie sy nie, en saam sal hulle ten gronde gaan.
Stadig maar seker kom maak sy hartseer oë ’n plek langs die van Bertholdt in haar gedagtes, en weet sy dat al haar wakker-wees, en nag-wees ure, gevul is met die onthou van die wens van hom wat haar so lief gehad het.
In sy kamer sit Arendt Böhmer met sy broer se Bybel oop voor hom. Vandag treur hy opnuut, want vandag het hy die trekker waarmee Bertholdt verongeluk het, uit die rivier gesleep. Voor hom op die tafel lê ’n fyn goue ketting en ’n troupand, die het hy gevind tussen die modder in die kajuit, en hy weet, naas die liefde in sy hart vir sy gestorwe broer se vrou, is hierdie sy kosbaarste besitting.
‘Bertholdt en Tamar’, lees hy binne in die ring, en die trane wat op die ring val, val direk uit sy hart uit. Een ding weet hy, hy sal Pretoria toe moet gaan, hy kan nie meer daar weg bly nie, die weg wees van daardie mens is besig om hom gek te maak. Hy blaai tot waar die foto van haar en die kleintjies is, en hy druk dit aan sy hart.
In die afgelope elf maande het hy haar leer ken, hulle liefde vir mekaar leer ken uit al die kaartjies in die Bybel, kaartjies van haar ewige liefde vir hierdie klein boetie van hom wat so ontydig gesterf het.
Hy voel die gedagte in sy hart, en hy sê dit hardop, “Ek het jou lief Tamar met die uitlandse van, liewer as die lewe self, en ek sal daarvoor veg”.
Hy pak sy klere en sonder ’n woord verlaat hy die huis, loop hy net om te gaan probeer vind dit wat sy broer gehad het. In sy hart bid hy onophoudelik, ‘Here gee dat sy my lief kan hê, al is dit net een persent van hoe lief ek haar het, ek sal tevrede wees’.
Joop Roux is stom van verbasing wanneer hy na Arendt kyk, ‘Kan dieselfde verhaal hom dan nou twee keer in een lewe afspeel. Kan daar werklik weer ’n Bertholdt gewees het, wat sy broer geluk wou gee, en dit toe so onwetend weggeneem het. Die omstandighede is verskillend, maar die uiteinde dieselfde. Kan daardie vrou wat so gebroke was, hierdie man ooit liefkry, en hom gelukkig maak’.
“Sy het al die grond aan jou afgeteken”.
“Wanneer”.
“Die dag na die begrafnis”.
Die ongeloof op Arendt se gesig, sê alles, “Sy kan nie, wat van haar kinders, hulle is ook geregtig daarop”.
In die verklaring kry die prokureur sy antwoord, en weet hy dat sy hom net lief sal moet kry, want sonder haar, sal hy sterf.
Hy wag net buite die ligkring van die hospitaal se ingang vir haar, en wanneer sy ’n paar treë van hom is, sê hy sag, “Tamar”, en dit klink soos ’n liefkosing. Voordat hy in die lig intree, weet sy dit is hy, en snak sy na asem, terwyl haar hart met geweld begin klop. Sy sien die dierbare gesig wat haar so teister, en sy word week.
Hy vra dit met ’n smeking in sy stem, “Kan ons gesels, asseblief”.
“Nee”, sê sy beslis, sy weet, sy is nie sterk genoeg om hierdie man uit haar lewe te hou nie, en totdat hy vrede het, kan sy nie toegee nie. Sy stap voort en haar arm skuur teen sy bors wanneer sy probeer verby gaan.
“Wag”, kreun hy dit uit, en gryp haar aan die arm. Die onverwagtheid daarvan laat haar aan die rondte tol, en die volgende oomblik gryp hul desperaat na mekaar om haar val te stuit. Vir een enkele minuut lê sy met haar kop teen sy bors, voel sy haar eie passie in hom, voel sy hul liggame skreeu na mekaar. Sy ruk haarself met geweld uit die oomblik, maar hy hou haar arm vas.
“Laat my net my broer, julle kinders, sien, asseblief ek smeek jou”. Sy weet sy kan nie nee sê nie, en met 'n, “Kom dan”, stap sy vooruit deur die hospitaal dorp na haar huis, haar en Bertholdt se kinders se huis.
Hulle gaan stilswyend die trappe op, en deur die groot voordeur. Binne wag Maddie en die skok is in haar oë.
“Toemaar Maddie, hierdie is meneer Bertholdt se broer. Hoe gaan dit met die kleintjies?”
Sonder om haar oë van Arendt se gesig te neem, sê Maddie Greeff, “Hulle slaap rustig professor, en hulle was te pragtig vandag”.
“Dankie Maddie, jy kan dan maar gaan lê, ek sal self verder regkom”.
Met een verdere kyk in Arendt se rigting, draai Maddie Greeff om en gaan deur die binnedeur na haar eie kamers. Die wete is in haar, ‘Dit was asof meneer Bertholdt vanaand terug gekom het, nee, nie meneer Bertholdt nie, die liefde, en in haar bid sy dat dit so moet wees vir hierdie vrou wat soveel liefde vir die wêreld het’.
Tamar bestyg die trappe na die bovlak twee trappe voor hom, en hy sien die volmaaktheid van haar liggaam, en hy beleef weer daardie enkele sekondes toe sy teen hom was, en in hom huil dit.
In die flou nagliggie lê hulle daar, twee engeltjies, met regop stokkies hare, en wanneer sy omdraai sien sy die trane oor sy wange loop, en vlug sy uit die kamer, weg van hierdie begeerte om hom aan haar hart te druk.
Sy sit die koppies reg, en kook die water. Sy sit die ketel af, en wag. Sy sit die ketel weer aan, en sy kook die water weer, maar hy kom steeds nie.
Na ’n baie lang tyd hoor sy hom op die trap, en stap sy deur die portaal om hom na die kombuis te nooi. In die flou lig van die portaal, kyk hulle tot diep in mekaar se siele, en weet albei dat hulle nie werklik sonder mekaar kan heel wees nie.
Met twee koppies koffie stomend tussen hulle, en ’n horlosie wat op twee uur staan, kyk hulle mekaar in die oë, en albei weet dat daar tog vannag iets gepraat moet word, indien hulle enige hoop op lewe hierna gaan hê.
Hy begin praat soos iemand wat verlore is, “Ek het die afgelope elf maande, nee, laat ek eerlik wees, vanaf daardie dag wat ek jou so woedend kom sien het, nie een dag se vrede gehad nie”.
Sy wil hom stil maak, maar hy skud sy kop.
“Jy spook by my, jy slaan my plat, en jy tel my op, jy bring die lig in my lewe, en jy verdoof dit, ek kan nie meer so voortgaan nie”.
Hy vat albei haar hande vas, en kyk met trane in sy oë na haar, “Wat moet ek doen, sê my net wat wil jy van my hê, voordat jy my in julle lewe sal inlaat”.
Sy sê dit eenvoudig, “Gaan maak vrede, kry antwoorde op jou vrae, en maak vrede, want ek en Bertholdt se kinders, kan net in liefde en vrede gedy, nie in haat en pyn nie”.
So, sonder verdere woorde, sit hulle daar, drink hulle, hulle koffie, en wanneer hy opstaan om te gaan, sê sy, “Bly vannag hier, hier in Bertholdt se studeerkamer, dan gaan jy môre verder”.
Hy volg haar sonder verweer, een nag onder dieselfde dak as sy, is meer as wat hy ooit voor gehoop het, en dit vul hom met vreugde. Sy haal die linne en komberse uit, en maak die groot ou sofa reg. Dan stap sy deur die sydeur haar slaapkamer in, en gaan haal vir hom slaapklere, Bertholdt se slaapklere.
Net die, “Nag”, verbreek die stilte, die pyn, die ekstase, en dan is sy deur die deur, en moet sy haar gesig in die kussing druk om haar snikke te stil. Hy bly sit op die sofa met sy broer se nagklere in sy hand, en in hom lê die vreugde soos ’n warm kombers.
Wanneer sy opstaan is hy weg, en is net die netjies opgevoude linne en nagklere ’n bewys dat hy daar was. Met ’n snik tel sy die nagklere op, en druk dit teen haar hart, en stadig vul Arendt se reuk, en blywende teenwoordigheid haar liggaam en haar siel, en al wat deur haar gedagtes gaan, is hom wie sy nog so lief het, se smeking, ‘Maak my broer gelukkig, soos wat jy my gelukkig gemaak het’, en sy weet sy wil.
Twee weke later sê Carl Zeiss haar, “Arendt het my kom sien”, en hy sien die hartseer en twyfel in haar oë.
“Wat jy gedoen het, was reg, moenie daaraan twyfel nie. Jy het voordat ek jou gevind het reeds jou leeftyd se haat en geweld deurleef. Wat nou vir jou oor is, is die liefde, en die geluk wat jy met Bertholdt gedeel het, en dit is al wat jy met Arendt kan deel, want geen mens gaan vir enige rede terug na haat, wanneer hy eers liefde gesmaak het nie”.
Hy sien die trane in haar oë, en hy self ken die hartseer van alleen wees, en hy druk haar aan sy hart en sê, “Hy sal terugkom, al vat dit hoe lank, hy sal terugkom na jou toe”.
In haar lê die wanhoop, want kan sy die ‘hoe lank’, deurleef, en haar dae gaan eensaam en hartseer verby, en sy onthou Arendt se smeking daardie aand, en dit word ook haar smeking.
Laat in Desember, laat in die nag, hoor sy die klop, en weet sy, dit is hy. Sy maak die deur oop, en in die flou lig van die portaal staan hy, sterk in sy man wees, met hare wat minder stokkies is, en blousel blou oë wat smeek, ‘Moet my nie weer wegstuur nie’.
Sy steek haar hand na hom uit, en trek hom die portaal binne, en wanneer die deur agter hulle toegaan, gaan sy in sy arms in, en weet sy, maak nie saak of dinge reg of verkeerd is nie, sy kan hom nie weer laat gaan nie, haar belofte aan Berthold, om ‘sy broer’ gelukkig te maak, het in die maande haar rede tot bestaan geword, nie net oor die belofte nie, maar oor die gevoel in haar.
Die aanraking van hul liggame laat die gevoel van passie en ekstase vlam tot ’n vuur wat dreig om hulle, hulle houvas op die realiteit te laat verloor. Hulle hou mekaar vas tot die vuur uitgewoed is, en hulle die kloppende emosies in hul voel tot rus kom.
Hulle gaan sit in die kombuis oorkant mekaar by die tafel, albei weet, hulle het nou ’n fisiese skeiding tussen hulle nodig, hierdie is nie ’n liefde wat stadig en rustig sal groei nie, maar ’n liefde wat binne sekondes albei se emosies laat vlam tot daar waar geen terugkeer sal wees nie.
Hy sê dit so eenvoudig, soos sy dit gesê het, “Ek het my antwoorde gekry, ek het vrede sover dit my verlede aangaan”, en hy vat haar hande in syne, “Maar wat nou van die toekoms, ons toekoms, kan jy my liefhê soos wat jy Bertholdt gehad het?”
Die antwoord lê seker in haar gemoed, “Nee, nooit soos ek Bertholdt lief gehad het nie. Julle is twee eerste liefdes, die een stadig groeiend tot volheid, en die ander ’n oombliklike ontploffing van ekstase”. Sy druk sy hand tussen haar hande, “Dat ek julle ewe veel lief sal hê, is seker, maar nooit dieselfde nie. Wat jy my laat voel is vir my nuut, ’n eerste belewenis, net soos dit wat ek vir Bertholdt gevoel het, enig was”.
Wat in hulle ontstaan kan geen fisiese skeiding weerstaan nie, die opstaan, die loop in mekaar se arm in, en die saamkom van hul lippe, bring die volheid van hul liefde.
Die dae met Arendt, en Berthold se twee dogtertjies, lig haar uit die hartseer, en wanneer sy saans op haar knieë voor haar God kniel, voel sy Berthold se aanwesigheid, en weet sy, hy weet, dat nie net sy wens vir sy broer se geluk volbring is nie, maar ook haar wens vir hierdie man se liefde, en sy is ongelooflik gelukkig.
Hy sit op die stoel waar Berthold daardie aand gesit het, met sy kop op sy arms, toe hulle albei besef het dat hulle lief het, so ongelooflik liefhet, en sy stap na hom, en sy sit haar arms om sy skouers, en sy gaan lê teen sy warm sterkte, en sy weet, ‘sy kan ook net heel wees by hom’.
Hy staan op, hou haar teen sy hart, en hy sê dit met trane wat uit sy oë val, “Ek kan nie weer uit jou huis gaan nie, ek kan nie weer sonder jou leef nie, sal jy asseblief jou hele lewe met my deel, sal jy asseblief met my trou en my vrou word”, en sy sê die woorde wat in haar hart is, die woorde wat sy oor die afgelope weke soveel keer in haar gedagtes vir hom gesê het, “Ja, duidend keer ja, want ek het jou ongelooflik lief”, en hy trek haar teen hom vas, en hy snik sy dankbaarheid teen haar hare uit.
Op Oujaarsaand word hulle in die huwelik bevestig in die kapel in die hospitaal dorp, hy gaan terug na sy geboorte grond, gaan haal sy klere, en weier om een dag weg van haar te wees, maar sy weet, sy sal hierdie liefde moet deel, moet deel met hulle wat hom liefhet, en sy is gereed daar voor.
Voor die volgende Kersgety word daar vir hulle twee seuns gebore, ’n Arendt en ’n Bertholdt, met blousel blou oë, en minder stokkies hare, en hulle geluk is volmaak.
In die lente kniel hulle twee by sy graf, en sê Arendt vir hom, “Ek het ons gesin huis toe gebring, hier na jou toe waar ons saam gelukkig kan wees”.
In die groot huis agter die wingerde sit ’n ander Arendt en Bertholdt, met hulle Elza, en speel hulle met hulle kleinkinders, en die hartseer oor al die verlore liefde, en jare uitgepraat, reggemaak, en die pad vorentoe wat hulle saam sal leef lê voor hulle.
Wanneer die maan hoog sit, staan hulle twee aan die begin van die wingerd, en haal Arendt, Bertholdt se troupand uit sy sak en steek dit aan sy vinger tot teen sy eie trouring. Hy vat haar hande in sy groot hande, en met sy lippe teen haar kop, sê hy sag, “Ek wil hê dat hy altyd by ons sal wees, want ons het soveel liefde tussen ons, dat ons sy krag nodig sal hê om daaraan te help dra”.
Sy sit haar arms om sy lyf, en trek hom styf teen haar vas, en sy weet dat haar geluk volmaak is, altyd was, van die dag toe die Böhmers met hul blousel blou oë, en stokkies hare in haar lewe gekom het, en haar beker loop oor.